Foefieman Fona slaan weer toe 

 

Inwoners aan die kus en huurmotorbestuurders wees gewaarsku. Fona (nie sy regte naam nie) is weer doenig. Sy nuutste in 'n string van niksvermoedende slagoffers is 'n huurmotorbestuurder van Swakopmund genaamd Dawid Ipinge vir wie hy met slinkse praatjies 'n rat voor die oë gedraai het en van N$120 ontneem het onder valse voorwendsels Saterdagaand in Kuisebmond. 

Die selferkende dwelmslaaf was vir byna 'n maand lank stil en het Saterdag weer sy loopskoene aangetrek en met sy slinkse streke begin om sy dwelm gewoonte te onderhou. Sy optrede bewys dat dwelmslawe tot uiterstes toe sal gaan in hulle soeke na 'n “quick fix”.

Ipinge en Fona se paaie het in Kuisebmund gekruis nadat hy kliente uit Swakopmund afgelaai het. “Ek was oppad na die taxi rank om weer kliente te gaan optel en na Swakopmund terug te keer toe hy my stop”, vertel 'n verslae Ipinge.

Hy het my meegedeel dat hy in Frankestraat in Vineta, Swakopmund woon. Ek is woonagtig in Swakopmund en het hom geglo. Hy wou eers gou 'n boks vis gaan optel en daarna moes ek hom na Narraville neem om sy vrou wat daar op hom gewag het te gaan kry voor ons na Swakopmund sou vertrek.

Hy het by my N$ 120 geleen om te betaal vir die boks vis en het hand en mond belowe om dit terug te besorg die oomblik wanneer ons by sy vrou in Narraville opdaag. Hy het my ook die versekering gegee dat hy sommer vir al die sitplekke in die huurmotor vir die rit na Swakopmund sou betaal en het my gevra om nie enige ander kliente op te laai nie. Hy was baie oortuigend en ek het hom die geld gegee en ingestem om hom na sy bestemming te neem. 

Na ek hom die geld gegee het, het hy my na 'n huis in Kuiseb-mond laat ry waar hy die motor verlaat het en toe na 'n rukkie baie haastig teruggekeer het. Hy het my toe aangesê om na Narraville te ry. Oppad na Narraville het hy begin om kokaiene in die motor te rook en het daarop aangedring dat ek nie enige van die motor se vensters moes afrol nie. 

Toe ons in Narraville arriveer het hy my gevra om by verskeie huise stil te hou in die Funky Town woonbuurt op soek na sy vrou. Hy het na die deure van wonings geloop en gaan klop. Na 'n hele paar keer het hy na die motor teruggekeer en my vertel dat sy vrou glo klaar weg was Swakopmund toe met 'n geleentheid vroëer die aand.

Hy het my toe gevra om na die Narraville  polisiestasie te ry waar sy broer glo werksaam is sodat hy geld kon kry en dit wat hy aan my verskuldig was terug te kon besorg. Toe ons by die polisietasie aankom het hy agter die toonbank ingehardloop en sy deuntjie heel verander.

Ek skuld die man en kan hom nie betaal nie het hy die offisier aan diens meegedeel. Hy het toe om genade begin pleit en die huurmotorbestuurder  gesmeek om Maandag die geld wat hy hom skuld te kom haal. 

Fona se moeder is gekontak en sy het die geld verskuldig aan die huurmotor bestuurder namens haar seun verhaal vir die soveelste keer. Ek is raadop vir my kind se doen en late en vrees vir die dag waneer hy seergemaak gaan word het sy gesê. Sy het verlede week sestig plakkate met sy gesig daarop gemaak en dit onder plaaslike huurmotorbestuurders versprei om hulle te waarsku teen Fona.

Hy is vir ‘n paar uur in polisiebewaking gehou en op Sondagmiddag vrygelaat. Op 'n vorige geleentheid het Fona glo sy goue tande vir N$1200 verkoop om geld vir dwelms in die hande te kry. 

Sy familielede moes hom ook al by 'n verlate plek tussen Walvisbaai en Swakopmund gaan haal waar hy gelos was deur 'n huurmotorbestuurder wat nie vir sy foefie wou val nie. Hy het eers vir Fona sy klere laattrek uit en toe net in sy onderbroek by die voertuig uitgegooi.

In nog 'n foefie vir dwelms is 'n wel-bekende dwelmverslaafde dame opgemerk waar sy met haar kind op haar heupe by verskeie deure vir hulp aanklop. Haar snert storie is dat sy geld nodig het om haar kind wat geval het en mootlik sy arm gebreek het by 'n dokter te kry of dat sy sopas van Windhoek in Walvisbaai aangekom het.

 

Otis Finck

20 September 2011