| · Denver Kisting
“Ek is spyt oor dít wat ek gedoen het en sedertdien worry ek nie meer oor sulke goed nie…”
Dít was die emosionele boodskap van mnr. Jaco Olivier, 'n Swakopmunder, tydens sy skuldigbevinding op aanklag van die besit van kokaïen, in die plaaslike landdroshof laat verlede week.
Olivier en sy vrou, me. Janine Olivier, en 'n medebeskuldigde, mnr. Rogger Isaacs, is in April verlede jaar in dié vakansiedorp in hegtenis geneem.
Dié drietal het aanvanklik tereggestaan op 'n klag van kokaïenhandel. Hul inhegtenisnemings het destyds skokgolwe deur die gemeenskap van Tamariskia gestuur.
Verlede Donderdag het 'n tragiese verhaal in die Swakopmund-landdroshof ontvou toe mnr. Olivier erken het dat hy 'n gebruiker van die uiters verslawende dwelmmiddel was. “Ek was 'n gebruiker van crack/ kokaïen of rocks en die dwelmeenheid het daarvan uitgevind en my huis kom deursoek en dit toe in die spoelbak van die toilet gekry.”
Hy het aan die hof verduidelik dat dié vorm van kokaïen 'n gekristaliseerde weergawe is. “Dit maak mens hoog.” Volgens hom het hy N$4000 opgedok vir 40 stukke van dié dwelm.
Nadat die hof hom op die alternatiewe klag van dwelmbesit skuldig bevind het, het hy ter strafversagting getuig dat hy 'n getroude pa van twee kinders is en tans werkloos is. Hy het aan landdros Hannelie Prinsloo gesê dat sy kinders onderskeidelik twee en ses jaar oud is. Hy het voorts gesê dat hy nie meer dwelms gebruik nie, en dat hy berading ontvang het. Sy gesin het hom volgens sy getuienis ook gehelp om die probleem die hoof te bied.
Dit het ook aan die lig gekom dat die laboratoriumtoetse om die aard van die dwelmmiddels te bepaal, steeds uitstaande is. Desondanks het mnr. Olivier besluit om skuldig te pleit omdat hy “die saak wil afhandel”.
Die staatsaanklaer, me. Maria Shilongo, het die hof toe versoek om hom 'n boete van N$6000 of 24 maande gevangenisstraf op te lê. Prinsloo het die staat gelyk gegee. Sy het mnr. Olivier egter op die hoofklag van dwelmhandel onskuldig bevind en vrygespreek.
Alle aanklagte teen me. Olivier en mnr. Isaacs is teruggetrek. |