Kettieskieter teikenmotor vol toeriste
Daar bestaan 'n sterk moontlikheid dat kwajongens hul nou met voëlrekke (ketties) toespits op voertuie op die kuspad digby Walvisbaai. Dit volg nadat 'n toeroperateur se voertuig Maandag omstreeks 16:30 deur 'n klip getref is, en 'n agterruit in die proses uitgeskiet is. Om sake te vererger het die voertuig op daardie stadium vier toeriste wat afkomstig is van die besoekende passasiersskip die “St Helena” aan boord gehad en vir hulle was dit 'n geweldige traumatiese ervaring. “Ons het die laaste strek kuspad digby die ingang van Walvisbaai betree, waar die twee rye palmbome weerskante van die pad geplant is. Skielik het 'n oorverdowende klap geluid gevolg en die hele voertuig was vol glasstukkies”, het mnr. Henk Marais gistermiddag telefonies aan die Namib Times vanuit Swakopmund verduidelik. Mnr. Marais is die eienaar van Stargazing Adventure Namibia en was op 'n gekontrakteerde toer vir Tommy's Tours. Hy was in gelid met twee ander toervoertuie in dieselfde toergeselskap, toe die voorval plaasgevind het. Hy het bygevoeg dat hy vir 'n oomblik, nadat die klapgeluid voorgekom het, gedink sy voertuig se band het gebars. Toe hy die glassplinters sien, het hy tot die skokkende besef gekom dat iemand moontlik met 'n vuurwapen op sy voertuig kon geskiet het. Die toeriste het baie groot geskrik, en dit was na afloop van die voorval ook duidelik dat die voorval hulle erg ontstel het. Mnr. Marais het voorts verduidelik dat hy eers 'n redelike ent gery het, voordat hy gestop het net vir ingeval hy dalk die slagoffer van 'n gewapende lokval was. Toe hy stop en nadere ondersoek instel, het hy gesien sy motor se linker agterruit is gebreek, maar daar is geen verdere skade nie. Hy het die touriste by die hawe besorg, maar toe hy hul bagasie en ander items uit die motor se bak verwyder, het hy op 'n spierwit kwartsklip afgekom. Dit is 'n reuse klip en ek het vandag geen twyfel dat iemand in die bome weggekruip en my motor met die klip uit 'n kettie geskiet het nie. Mnr. Marais sê hy sidder as hy daaraan dink dat die klip een van sy toeriste of homself getref het. “Dit is 'n baie ontstellende voorval en dit is belangrik dat ouers hul kinders opvoed oor hierdie tipe optredes. Ek wil sê kinders, want grootmense tree nie so onverantwoordelik op nie”, het hy gesê. Hy doen 'n dringende beroep op die polisie om die gebied dop te hou en die kwajongens vas te vat, want benewens die skade wat hul aanrig, kan hulle iemand se dood of 'n ernstige motorongeluk veroorsaak. Namibië se naam as toeriste-bestemming sal ook liederlik deur die modder gesleep word.
Wednesday 3 February 2010