| · Denver Kisting
Minder as 'n week nadat mnr. Jaco Olivier in die Swakopmund-landdroshof aan kokaïenbesit skuldig bevind en beboet is, het hy opnúút met die gereg gebots.
Dié 28-jarige Tamariskia-inwoner en sy swaer, Anthony Erasmus (29), is Dinsdag weens beweerde kredietkaartbedrog aangekeer. Dié twee mans het die afgelope Woensdag 'n eerste verskyning op aanklag van bedrog voor landdros Gerrit van Pletzen gemaak. Hulle is onderskeidelik beskuldigde nommer twee en drie in die saak. Die 22-jarige Denwille van Wyk, beskuldigde nommer een, is reeds op 21 Januarie vanjaar vasgetrek.
Al drie die mans is in aanhouding.
Adjudantoffisier Julia Nujoma, 'n polisie-woordvoerder in die Erongostreek, het by navraag aan Namib Times gesê die waarde van die beweerde be-drog word in die stadium op N$16 000 geraam.
Die Tamariskia gemeenskap het die afgelope week gesteier onder die skok omdat Olivier verlede Donderdag aan die besit van kokaïen in dieselfde hof skuldig bevind en met N$6 000 beboet is. Nadat hy die boete betaal het, was hy 'n vry man, maar dit toe net tot sy inhegtenisneming Dinsdag.
Tydens 'n tranetrek getuienis verlede week ter strafversagting, het hy aan landdros Hannelie Prinsloo verduidelik dat hy “spyt [is] oor dít wat hy gedoen het, en sedertdien (sy arrestasie in April verlede jaar) worry ek nie meer oor sulke goed nie”.
Hy het voortgeborduur oor hoe hy na bewering berading ontvang het, en daarnaas met die hulp van sy gesin se ondersteuning sy probleem kon oorkom. Hy het voorts getuig dat hy die pa van twee minderjarige kinders is, geen werk het nie en geen bates besit nie. Sy jong vrou, Janine, en Rogger Isaacs, het aanvanklik sáám met hom tereggestaan op aanklag van dwelmhandel. Die staat het die saak teen die twee medebeskuldigdes teruggetrek en Olivier is op die alternatiewe klag van dwelmbesit skuldig bevind.
Intussen blyk daar 'n kredietkaarbedrogsindi-kaat in dié vakansiedorp doenig te wees. Erasmus en drie medebeskuldigdes Jaco Grobler (26), Imtiaz Saal (21) en Lizle van Wyk (32) het op Oukersaand 'n eerste verskyning voor Prinsloo gemaak óók weens beweerde kredietkaartbedrog. 'n Bekende meubelhandelaar is glo deur dié viertal met die bedrogspul bedrieg. Die drie mans is toe op borgtog van N$8000 elkeen vrygelaat. Geen borgtog is aan Lizle van Wyk toegestaan nie, nadat sy laat verlede jaar ook weens beweerde krediet-kaartbedrog saam met 'n bekende sakeman, Michael Dausab, aangekeer is. |