| Die pelagiese bote “Rynovisk” en “Atlantic Harvester” was die eerste om hierdie week see-toe te gaan, op soek na sardyn. Ongelukkig was daar toe van sardynvangste geen sprake nie, maar die bote kon wel met sowat 300 ton rooioog teruggekeer.
Namib Times het met een van die bemanningslede gesels, wat van mening was dat die water nog nie reg is vir sardyn nie. ‘n Bron by een van die sardynverwerkers het saamgestem dat die tyd nie nou reg is vir vangste nie, maar dat water-temperature veral dopgehou word. “Ons sal seker een of ander tyd ‘n probeerslag aanwend, maar ons hou vir eers terug”, is gesę.
Die koerant het ook met een van die woordvoerders van die bedryf gesels (name word weerhou, aangesien die bedryf redelik gevoelig is met betrekking tot die medeling van inligting aan die media). Hy skat dat die sardynbron nou die beste in die omgewing van Baia dos Tigres in Suid Angola gekonsentreer kan wees, maar dat vangste daar alles by Tombwa afgelaai word, en dit dus die Namibiese sardynverwerking nie veel gaan baat nie.
Wanneer watertemperature in Angolese water wel warmer word, sal die sardyn in Namibiese water begin inbeweeg en bronne in die diepsee sal ook begin nader beweeg aan die Namibiese kus. Die twee bote wat uit was, het so ver noord as Rocky Point beweeg en geen sardyn gevind nie, wat kan beteken dat goeie sardynvangste naby aan Wal-visbaai nog etlike weke in die toekoms verwyder lę. |