| 'n Man verkeer in 'n ernstige toestand in die Staatshospitaal op Walvisbaai, nadat hy Vrydag deur sekuriteitsbeamptes by 'n “sjebien” met pepergas bespuit en glo met ‘n skoktoestel toegetakel is. Die man het tydens die onderonsie aan die brand geslaan, en hy het in die proses ernstige brandwonde opgedoen. Daar word nou bespiegel dat die pepergas vlambaar is, en deur die vonk van die skoktoestel aan die brand gesteek is.
Die man se naam was teen druktyd gistermiddag nog nie bekend nie, maar die twee veiligheidswagte wat hom toegetakel het, het reeds in die landdroshof op 'n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer verskyn.
Die beskuldigde wagte is geïdentifiseer as Josef Shekeni en Daniel Shikese. Beide is op borg van N$2000 vrygelaat en hulle sal weer 'n volgende verskyning op 8 April vanjaar maak.
Volgens beskikbare inligting het die slagoffer Vrydag met 'n glas vol drank by die P.M.T. Bar in Kuisebmond opgedaag. Hy het met die drank die plek binnegegaan omdat hy na sy vriende gesoek het. Die sekuriteitswagte, Shekeni en Shikese, het hom gekonfronteer toe hy weer uitkom.
'n Stoeiery het glo ont-aard waarna die wagte hom met pepergas bespuit het. Een van die twee wagte het 'n skoktoestel geneem en het die man glo op sy geslagsdele geskok. Die man het oombliklik in ligte laaie gestaan. |