146 000 vraghouers op Walvisbaai Hawe hanteer

Die Hawe op Walvisbaai het in die 2019/20 begrotingsjaar ‘n totaal van 146 396 twintig-voet ekwivalente eenhede (Total Equivalent Units or TEU’s) se vraghouers hanteer.

‘n Twintigvoet Ekwivalente Eenheid (TEE) is die eenheid waarin houervrag gemeet word. Een TEE is ‘n standaard twintigvoet vraghouer. ‘n Veertigvoet vraghouer is dus 2 TEE’s.
‘n Totaal van 64 433 TEE’s is vanuit die hawe verskeep en ‘n totaal van 68 500 is geland. Dan is ‘n verdere sowat 13 463 TEE’s van een skip na die volgende oorgeplaas vir verdere vervoer (trans-shipped).
Die Namibiese Hawe-owerheid werk onverpoosd om sy vraghanteringskapasiteit en sy doeltreffendheid te verbeter. Dit is belangrik as Namibië se twee hawens kompeterend wil bly teen hul eweknieë in Suid-Afrika en Angola.
‘n Groot stap vorentoe vir Walvisbaai was gedurende Augustus 2018, toe die nuwe vrag-terminaal op ‘n mensgemaakte eiland aan die suidekant van die Walvisbaai Hawe in gebruik geneem is.
Vier skeep-tot-kaai hyskrane is in gebruik geneem. Dié reuse laai die vraghouers uit die skepe. Op die kaai is daar verskeie kleiner mobiele hyskrane, hysers en vragmotors wat die vraghouers op hul plekke kry.

Bron van inligting:Namibia State of Logistics Report 2020

You must be logged in to post a comment Login