Basterkapteinsverkiesing vind plaas op 24 April

Rudi Bowe

Namibië se Rehoboth bastergemeenskap gaan op 24 April na die stembus vir die verkiesing van ‘n nuwe Basterkaptein. Lede van die bastergemeenskap wat op Walvisbaai en Swakopmund woon kan nog vannaand en môreaand registreer om aan die verkiesing deel te neem.

Die bastervolk het ‘n ryk tradisie en kultuur wat oor die 150 jaar strek. Die amptelike leierskap berus in ‘n Basterkaptein, wat vir ‘n lewensduur aan bewind bly.
Die twee kandidate wat in hierdie verkiesing teen mekaar te staan kom is Jacky Britzen en Rynault van Wyk. Die verkiesing van ‘n nuwe Basterkaptein volg op die onlangse dood van kaptein John McNab.
Die verkiesing van ‘n Kaptein geskied volgens die Vaderlike Wette van 1872. As die Kaptein verkies is, stel hy ‘n Raad aan. Dit is nie ‘n politieke proses nie, maar wel daar om die bastervolk se geloof en kultuur te bewaar.
Alle lede van die bastervolk oor die ouderdom van agtien, met ‘n wettige identifikasie-dokument, kan aan die verkiesing deelneem.

Diegene wat aan die verkiesing wil deelneem kan vannaand tussen 18:00 en 20:00, en môre tussen 08:00 en 14:00 by die Rynse Kerk in Tamariskia op Swakopmund registreer. Op Walvisbaai kan mense môre tussen 10:00 en 19:00 by die Luterse Kerk in Narraville registreer. Die registrasiefooi beloop N$20-00.
Nota: die verkiesings sal ook by hierdie twee registrasielokale plaasvind.

You must be logged in to post a comment Login