Bekende sielkundige voor hof op klag van verkragting

‘n Bekende sielkundige van Swakopmund is gisteroggend op N$10 000 borgtog vrygelaat, na ‘n eerste hofverskyning op ‘n klag van verkragting.

Dr Pieter van der Westhuizen, vergesel deur sy regsverteenwoordiger, het homself gisteroggend aan die polisie op Swakopmund oorgegee. Hy is aangekla en is daarna deur lede van die polisie na die landdroshof vergesel, waar hy ‘n eerste verskyning op ‘n klag van verkragting gemaak het.
Hy het sy borg betaal. Die saak is tot 20 Februarie 2017 uitgestel vir verdere ondersoek.
Van der Westhuizen sou na bewering meer as ‘n jaar gelede ‘n vroulike pasiënt medikasie ingee om haar bewussyn en haar fisiese krag in te kort, sodat sy haar nie kon teësit nie.
Die vrou het ‘n klag by die polisie op Swakopmund aanhangig gemaak, en beweer sy is oor ‘n tydperk van etlike ure deur van der Westhuizen in sy spreekkamer verkrag. Sy kon volgens haar geen weerstand bied nie, aangesien die medikasie haar tot ‘n beswyming gebring en haar ook fisiek beperk het. Boonop was die voorval op ‘n Saterdagoggend toe die spreekkamer nie vir sake oop was nie.

You must be logged in to post a comment Login