“BOOT SALE” in Swakopmund
Was jy al ooit by ‘n “car boot sale”? Dit het lank gelede reeds in Europa mode geword en daar is tans ook gereelde sulke geleenthede in Windhoek.
In Europa verkoop niemand meer goed in die straat voor sy huis nie – mense pak dit in hulle motors en neem dit na ‘n sentrale plek waar die “car boot sale” plaasvind. So ‘n verkoping kombineer die tradisionele vlooimark en privaat veilings. Groot getalle kopers word getrek en daar is werklik iets vir almal.
In ons huise het ons mos almal goed waaroor jy moet besluit: gooi weg, gee weg, of verkoop. Maar wat een nie meer kan gebruik nie of nie meer stoorplek voor het nie, is vir die volgende persoon ‘n besonderse en kosbare kleinnood!
Die doel van ‘n “boot sale” (verkope uit die kattebak van ‘n motor) is om gebruikte bruikbare huishoudelike items wat nie meer benodig word nie, beskikbaar te maak vir hergebruik. Die “Help Seniors” komitee van die NG Kerk op Swakopmund het besluit om die idee bietjie aan te pas en die opbrengs te gebruik om die bederf van die senior lidmate van die kerk makliker te maak.
Op Saterdag 1 Desember vind so ‘n lekker “car boot sale” in die straat langs die NG Kerk Swakopmund plaas. Volgens die organiseerders is die gedagte dat elkeen wat belangstel, sal kyk wat in jou huis of garage stof vergaar, maar wat nog bruikbaar is. Dit pak die verkoper dan in sy motor en kom verkoop dit hier – die inkomste gaan aan die kerk.
Die organiseerders onder leiding van Danie Wessels en sy span doen moeite om hierdie eerste volwaardige kattebakverkoping in Swakopmund ‘n groot sukses te maak en mense wat reeds daarvan weet, is opgewonde!
As jy op soek is na goeie kopies of dit sommer net geniet om ‘n lekker straatmark by te woon en tussen die stalletjies deur te loop, is hierdie die plek om te wees op 1 Desember. En dis veilig – goeie sekuriteit word voorsien, die straat word afgesluit sodat mense vryelik kan rondstap en daar is speelplek vir die kinders.
Wat kan die besoeker of snuffelaar daar verwag? Die eerste klompie goed wat ontvang is vir verkoping, sluit in:
Hengelgerei
Elektriese gereedskap
Handgereedskap
‘n Drukker met inkkassette
Visdampomp en filter
Speelgoed
Porseleinware
En vele meer
Om die dag nog lekkerder te maak, sal daar ook pannekoek, worsbroodjies en koffie en koeldrank te koop wees.
You must be logged in to post a comment Login