Boukontrakteur stel sy saak oor Build Together

Bay Construction, die reddingskontrakteur wat daarvan beskuldig word van swak bouwerk en afronding by tientalle Build Together huise in Narraville en Kuisebmond op Walvisbaai, het by monde van een van sy direkteure mnr Elwin Naidoo alle beskuldigings as ongegrond afgemaak.
Na aanleiding van klagtes en berigte in die verband in die namib times die afgelope weke, wou ons ook Bay Construction se kant van die saak aanhoor. Naidoo het die publiek daaraan herinner dat die tender vir die oprigting van die huise aan Bay Construction as ‘n reddingstender oorgegee is.
Dit is nadat vorige kontrakteurs handdoek ingegooi het en Bay Construction sy bes moes doen met wat van die begroting oorgebly het.
“Ek kan ook met sekerheid sê dat baie van daardie huise nie in die toestand oorgegee is as waarin dit vandag verkeer nie”, sê Naidoo. Hy het bygevoeg die dag toe die huise oorhandig is, was daar munisipale beamptes teenwoordig. “As die huise dan in so ‘n swak toestand was, waarom het hulle die huise aanvaar?”
Aldus Naidoo het Bay Construction uit sy pad gegaan om foute te herstel soos wat klagtes ontvang is. Naidoo bevraagteken ook die feit dat baie nou klagtes het, maar dat daar ‘n retensietydperk was waartydens klagtes geopper kon word. “Die ontevrede inwoners moet verstaan dat Bay Construction halfklaar-huise, beide Build Together projekte, oorgeneem het. Ons kan tog nie daarvoor verantwoordelik gehou word nie. Ons het hierdie projekte geensins met ‘n winsoogmerk afgehandel nie, maar wel met die oogmerk dat behuising dringend verskaf moet word”, het Naidoo verduidelik.
Mnr Kevin Adams van die munisipaliteit van Walvisbaai het ook bevestig dat tydens ‘n onlangse besoek in die teenwoordigheid van Naidoo, was inwoners in hul skik met hul huise en met herstelwerk wat gedoen is. Dit strook wel nie met huisbewoners wat nog steeds onsteld is oor die gehalte werk nie en wat met die munisipaliteit wil onderhandel om hul geld gedeeltelik terug te kry om die herstelwerk self te doen nie.
Voorts sê Naidoo geen huiseienaar kan ooit gevrywaar word van probleme nie.
Krane kan lek of breek of sand kan inwaai. Die huiseienaar sal ongelukkig op ‘n tydstip self verantwoordelikheid moet neem vir instandhouding.

You must be logged in to post a comment Login