Brandweer trap klei toe ontdek word brandkrane se koppe is afgesteel

Die Walvisbaaise brandweerdiens het gisteroggend hul hande vol gehad toe ‘n verwoestende brand nagenoeg sewentien informele wonings in Tutaleni op Walvisbaai in puin gelê het. Die grootste probleem was verskeie brandkrane in die omgewing van die brand was buite werking, aangesien die brons kraankoppe deur skrootdiewe afgesteel is.
Die krane was nutteloos en die brandweerdiens moes klaarkom met vier brandvoertuie wat elk sowat 2000 tot 2500 liter water op ‘n slag na die brand kon afvoer.
“Dit is hoogs kommerwekkend. Ons dorp se brandkrane word deur vandale en diewe geteiken en in voorvalle soos gisteroggend kan ons nie ons brandkrane gebruik nie. Hoewel ons vier brandvoertuie het, spuit elke voertuig sy watervoorraad in so min as tien minute uit. Dan moet die voertuig ry en water by ander werkende brandkrane gaan trek en weer na die brandtoneel terugkeer. Dit is baie ondoeltreffend en kan ‘n groot ramp afgee”, het die hoof van die munisipale brandweerdiens, mnr Dennis Basson, gister gesê.
Hy het ‘n beroep op gemeenskapsleiers gedoen om hul gemeenskappe in te lig en op te voed oor die uitwerking en sluimerende gevaar wat vandalisme en diefstal van kritieke openbare infrastruktuur tot gevolg het.
Hy het verduidelik die brandweer se doeltreffendheid word gemeet aan die beskikbaarheid van genoegsame water. In gisteroggend se voorval was die volumes water nie beskikbaar in die kritieke oomblikke toe dit nodig was nie.

You must be logged in to post a comment Login