Build Together Kuisebmond verskil met uitlatings van Bay Construction se Naidoo
Inwoners van Build Together in Kuisebmond op Walvisbaai het ‘n brief aan namib times gerig waarin hulle reageer op ‘n berig in Dinsdag se utigawe van die koerant waarin die kontrakteur Bay Construction, wat hul huise afgehandel het, ‘n stelling gemaak het dat hulle [inwoners] tevrede was met die toestand van hul wonings toe dit aan hulle oorhandig is. Inwoners voer aan dat geen munisipale amptenaa…r ooit saam met die kontrakteur by hulle was en die huise eers inspekteer en toe afgegee het nie.
Voorts voer die inwoners aan dat in teenstelling met die kontrakteur, mnr Naidoo, se verduidelikings daar nog steeds Build Together huise in Kuisebmond is wat nog nie oor elektrisiteit beskik nie, en dat bewoners vuur moet maak en snags met kerse en lampe moet werk.
“Kom besoek ons en kom kyk self. Dit is ook so dat Minister Saraah Shaningwa net die Narraville Build Together huise aan inwoners oorhandig het, en haar nie vergewis het van die toestand waarin die Build Together huisies in Kuisebmond daarna uitsien nie”, lui die brief.
Inwoners sê voorts hulle is ongelukkig daarmee om N$90 000 per huisie te betaal. Dit kos presies dieselfde bedrag as laekoste huise wat later jare deur ander laekoste skemas opgerig is. Nieteenstaande suig die Build Together inwoners aan die agterspeen, want hul huise het byvoorbeeld houtrame, in teenstelling met die alluminium-rame wat die nuwe generasie huisies het. Die nuwe generasie huisies is groter en daar is veel beter vakmanskap toegepas en beter afwerkings gebruik.
Die eerste Build Together huisies het wel alluminium-rame en diegene wie se wonings dit nie het nie, dring aan daarop, want hulle is die mense wat op die einde daarvoor moet betaal.
‘n Beroep word nou gedoen op die kontrakteur en die munisipaliteit van Walvisbaai om inwoners te ontmoet sodat ‘n middelweg gevind kan word, vra hulle. Inwoners voeg in die brief by hulle is dankbaar vir die dak oor die kop wat hul gegun word, maar daar moet regverdigheid wees en wat hulle toekom moet aan hulle gegee word, want hulle moet daarvoor betaal.
∙In Dinsdag se uitgawe het Bay Construction by monde van ‘n direkteur mnr. Elvin Naidoo verduidelik sy onderneming het as reddingskontrakteur toegetree om die Build Together huise in Narraville en Kuisebmond af te handel. Die kontrakteur moes die beste doen met die gegewe begroting. Inwoners aanvaar sy verduideliking, maar stry teen sy stellings dat hulle tevrede was toe die huise oorhandig is, en dat hulle gebruik moes maak van die retensie-tydperk om klagtes oor swak bou- en afwerkings te opper.
You must be logged in to post a comment Login