Die “Water Cube” in Swakopmund lyk stukke beter
Nadat die publieke swembad in Swakopmund, ook bekend as die “Water Cube”, verlede maand deur die oorspronklike eienaars, Epic Holdings, oorgeneem is, en aanvanklik weer gebruikers van die swembad op hulle agterpote gehad het omdat dit steeds groen was, het hulle duidelik die stryd begin wen.
Na ‘n vergadering vroeër is aangekondig dat die swembad in die vervolg op Vrydae gesluit sal wees, sodat behoorlike instandhouding en skoonmaak gedoen kan word. Dié stap het vrugte afgewerp. Toe namib times die naweek gaan inloer het, is ons vriendelik ontvang deur die twee werknemers wat ook vir kaartjieverkope verantwoordelik is. ‘n Pragtige, helderblou swembad het ons begroet, en daar was heelparty swemmers.