Gebedstaptog

Die gemeenskap van Walvisbaai en Swakopmund verenig môre oor kerkgrense om deel te neem aan die Gebedstaptog (Walk For Jesus) om padveiligheid op die B2 kuspad aan God op te dra. Die twee groot kruise wat weerskante van die kuspad in die omgewing van Langstrand geplant is, was juis die handewerk van gebedstappers toe hierdie geleentheid vir meer as ‘n dekade gelede vir die laaste keer aangebied is.

Organiseerders van verskeie kerkgroeperings het besluit om die jaarlikse Gebedstaptog weer in te stel. Met die vakansieseisoen op die voordeur word die publiek versoek om hierdie belangrike geestesgeleentheid by te woon.
Mense moet teen 07:00 môreoggend by die Diaz sirkel op Walvisbaai aanmeld, en inwoners van Swakopmund by die Swakopmund brug. Almal stap na Dolfyn Park waar stappers verrigtinge met sang, lofprysing en gebed gaan afsluit. Daar sal vervoer terug na die vertrek punte aangebied word.
Gemaklike stapskoene, water, sonskerm en ‘n hoed is baie belangrik. Diegene wat kleurvolle vlae wil saambring om te waai tydens die staptog word aangeraai om dit te doen. Die geleentheid is georganiseer sodat motors onder toesig geparkeer word, en dat die verrigtinge veilig sal geskied. Daar sal ook verversings langs die pad wees.

You must be logged in to post a comment Login