Genoeg is genoeg: Rusverstoring – Swakopmund Jet stores en Furnmart
Ek is radeloos met die bestuur van bogenoemde twee besighede wat tydig en ontydig hul musiek en bemarking of vanuit hul winkels of op die sypaadjie voor die winkels te uitbasuin. Die inwoners is al raadop.
Daar is heelwat woonstelle in die omgewing en ek is in die onbenydingswaardige posisie om bokant Furnmart en oorkant Jet Stores te woon. Hulle gee nie om hoe hard hulle die klanktoestelle laat blêr nie en dit help nie om die vensters toe te maak of jou TV se klank harder te maak nie. Die decibels is op die hoogste. Hier woon ou mense, kinders met babas en van die mense werk skofte en van rus is daar nie sprake nie. Dit is oneindig swak maniere en om nie van swak buurmanskap te praat nie.
Ek het al die bestuurder van Jet geskakel maar hy steur hom min aan my klagte. Ek het hul hoofkantoor se besonderhede probeer opspoor maar tevergeefs. Na ‘n gesukkel met Furnmart se bestuurder het ek Mnr Phillip tromp geskakel ,maar sy antwoord was “daar is wetlik niks wat hulle verhoed om hul musiek te speel nie en buitendien ek moet ver-staan dat die ekonomie swak is en hulle alles doen om besigheid te bevorder. Ek het nie geweet harde oorverdowende musiek is ‘n bemar-kingstrategie nie, behalwe om jou bure vies en onsmaaklik te maak. Buitendien is Mnr Tromp verkeerd, want daar is nog stees “nuisance laws” in plek en dit bly steeds ‘n onwetige oortreding. Ek moet darem sê, Furnmart het bietjie afgeskaal na die gesprek, maar aan Jet is geen salf te smeer nie en dit het ontaard in ‘n blatante uittarting teenoor die publiek en inwoners. Dit lyk my hoe slegter dit met hul finansies gaan, hoe harder die musiek.
Ons kla elke dag in ons mooi land oor siviele ongehoorsaamheid en dat mense die wet oortree en dat misdaad toeneem. Burgelike ongehoor-saamheid begin met klein jakkalsies soos die, waar mense sê ek sal maak soos ek wil en basta met julle ander. Mense soos Mnr Tromp en ander het ‘n siviele en sosiale verantwoordelikheid om toe te sien dat hul personeel die gemeenskap waarin hulle besigheid doen te respekteer en dat daar siviele orde is. Laat ons asseblief self besluit watter musiek ons wil luister, hoe hard en in die privaatheid van ons wonings waar ons niemand anders pla nie. Moet asseblief nie u muskiesmaak in ons kele en ore afforseer nie en dit bemarking noem of dat dit jou reg is nie. Ek is seker as ek my klanktoestel voor enige van hierdie menere se huise gaan kom opstel en luide musiek gaan speel gaan hulle beslis die polisie bel.
Die plaaslike owerheid kan gerus meer doen om hierdie euwel hok te slaan, maar ek moet byvoeg dat Mnr Cloete van die verkeersafdeling in die verlede baie behulpsaam was en hul van tyd tot tyd kom stilmaak as ons kla, maar dit kom nie tot ‘n einde nie en dit hoort nie so in ‘n beskaafde gemeenskap nie.
Die uwe – Louwtjie,
Haus Rossmund – Swakopmund
You must be logged in to post a comment Login