Gewysigde regulasie verbied kabeljouvangste van Januarie tot Maart

“Die wa is definitief voor die perde ingespan met hierdie regulasie”. Selfs ‘n visseryebempte het gister erken die gewysigde regulasie wat die vang van kabeljou van 1 Januarie tot 31 Maart aanstaande jaar tussen Pelikaanpunt en Sandvishawe gaan verbied, nie effektief afgedwing sal kan word nie. Maar verbied is dit nou verbied.

Die publiek het met met gemengde gevoelens gereageer op ‘n gewysigde regulasie ingevolge die Wet of Mariene Hulpbronne van 2000, wat op 1 April vanjaar reeds in die Staats-koerant gepubliseer is, maar nou eers in die openbare sfeer begin sirkuleer.
Die wysiging verbied enige hengelaar om voortaan tussen 1 Januarie en 31 Maart van elke jaar kabeljou tussen Pelikaanpunt (22 grade en 53.934 minute Suid noordwaarts tot by baken SV 1 by 23 grade en 19.126 minute Suid (Sand-vishawe) te vang. Die beperking is van krag vanaf die hoogwatermerk tot twee seemyl aflandig.
“Die regulasie verbied die vang van kabeljou, so dit staan jou vry om ander vissoorte binne die bestaande beperkings te vang”, het ‘n visseryebeampte gister verduidelik.
Toe namib times hom vra hoe prakties dit is, het hy saamgestem dat die Regulasie eerder die gebied geheel en al moes toemaak vir alle hengelary.
“Die toe-tydperk is buitendien gedurende die sogenaamde kabeljou-loop (cob-run), wanneer daar nie eintlik ander vissoorte soos steenbras, galjoen en kolstert gevang word nie. Ons het voorgestel ons sluit dit vir alle hengelaktiwiteite, maar ons voorstel is van die hand gewys”, het dié beampte gister verduidelik.
Hy het bygevoeg die bewyslas sal op die visseryebeampte wees indien daar wel kabeljou in ‘n hengelaar se besit is, maar die persoon byvoorbeeld sou aanvoer hy of sy het dit in ‘n wettige area gevang. “Dit maak ons werk nou net nog moeiliker”, is gesê.
Hengelaars het heftig op die nuus van die gewysigde regulasie gereageer: “Mag ons nou daar visvang of nie? Die visseryebeamptes sê daar mag visgevang word tussen Pelikaanpunt en Paaltjies, solank dit net nie kabeljou is nie. Hoe uitvoerbaar is so ‘n regulasie? Hoe gaan ons vakansiegangers met sulke nuwe wetgewing hierheen lok?”, wou ‘n ontstoke vrouehengelaar gisteroggend weet.
‘n Ander hengelaar was van gevoel dat baie van die kabeljou sal vrek indien dit teruggegooi word. Baie mense plaas vis nie met die nodige versigtigheid terug in die water nie. “Of jy hom vang en eet of vang en dan weens onkunde vrekgooi, dit is tog een en dieselfde ding. Dit help niks”, het ‘n hengelaar met baie hengelsomers agter die blad kopskuddend van hom laat hoor.
‘n Derde hengelaar was kwaad vir al die hengelaars wat oor die jare gedurende die kabeljou-loop “gemors” en “gemaai” het onder die kabeljou. “Ons word nou almal as gevolg van hierdie vrot appels se optredes gestraf”.
Na aanleiding van bogenoemde reaksies het namib times met senior visseryebeampte Stanley Ndara op Walvisbaai in verbinding getree. Ndara het verduidelik die inkorting van kabeljouvangste gedurende hierdie tydperk is vir die grootvis om kuit te skiet [broei]. Daar was geweldige kommer oor die hordes hengelaars wat elke jaar op die strande tussen Pelikaanpunt en Paaltjies, en tot sover as Sandvishawe as dit oop is, vir hengel op die broei-kabeljou toesak.
Hierdie eerste toe-tydperk [1 Januarie 2017 tot 31 Maart 2017] gaan ‘n oefenlopie wees. Sou daar aanpassings moet wees sal dit wetlik gedoen word, deur die bestaande regulasie weer aan te pas. Ndara het ‘n algemene beroep op die hengelpubliek gedoen om hul samewerking te gee.

You must be logged in to post a comment Login