Hokkie gaan groot aan die kus
Die naweek van 10 September was ‘n groot dag vir hokkie by die kus. Die eerste “TRUSTO Coastal Mini World Cup” toernooi is aangebied deur Pro-Ed Akademie met TRUSTCO as die hoofborg vir die dag.
Die eerste fluitjie is geblaas in ‘n tipiese mistige Swakopmund oggend. Baie gou het die mis-wolkies geswig voor die son en was die hokkie pretdag in volle gang. Dit was ‘n dag waarop hokkie en gesonde kompetisie geseëvier het. Vier lande, Mauritius (Pro-Ed), Brasilië (Laerskool Walvisbaai), Amerika (Private School Swakopmund) en Fiji (WBPHS en Dolphins) het meegeding in verskillende ouderdoms kategorieë (O/8, O/10, O/12, O/14). Die wedstryde is op vier mini hokkievelde gespeel met 6-8 spelers aan ‘n kant.
Dit was groot pret en die gees was weerspieël deur ouers wat sommer self begin saamspeel het as daar ‘n span gekort het. Die kompetisie was straf en op die ou end het Mauritius met een enkele punt bo Brasilië as algehele wenners uit die stryd getree. Daar was heerlike gekuier langs die hokkiebane en entoesiasties aangemoedig en raad gegee. Nuwe vriende is gemaak en ou “vyande” het skouer aan skouer vir hulle spanne geskree.
Danksy TRUSTCO se ruim borg is daar hempies aan al die deelnemers uitgedeel en brons, silwer en goue medaljes in al die ouderdomsgroepe toegeken. “All Star”spelers is ook aangewys in al die groepe en hulle het pragtige sertifikate ontvang. Die beste seun en meisie speler van die dag was altwee van Brasilië – Tayla ‘n O/8 meisie en Vialli ‘n O/14 seun.
Te oordeel aan die sukses van die eerste “Trustco Mini World Cup” is hierdie ‘n toernooi wat jaarliks gaan plaasvind en net van krag tot krag sal gaan. Hiermee ook ‘n paar foto’s van die heuglike geleentheid.
You must be logged in to post a comment Login