“Hope” se huisie se vensters weer skoon
Die ou stoomlokomotief, Hope, se huisie se vensters is weer silwer-skoon. Die Boet Bothma Voortrekkerkommando op Walvisbaai het verlede Dinsdag die inisiatief aan die dag gelê om dié geboutjie se vensters te gaan was.
Hope word al sedert die sestigerjare voor die hawedorp se stasie uitgestal. ‘n Geboutjie is mettertyd om die ou stoomlokomotief opgerig, om dit teen die uiterse weersomdstandighede te beskerm. Uiterse weersomstandighede beteken dus ook dat die vensters van die geboutjie verskriklik vuil word. Soveel so dat jy niks daardeur kon sien nie.
Namib Times het onlangs berig dat Hope letterlik die eerste babatreetjies van ons land se spoorweë verteenwoordig. Die lokomotief is in Augustus 1899 op Walvisbaai deur ‘n vragskip afgelewer.
Dit was die eerste lokomotief vir hierdie geweste en is in Engeland vervaardig. Benewens karweiwerk op die hawe van toeka, het dit ook waens na Plum getrek met mense wat graag daar piekniek gehou het. Dit het ook vullisverwydering behartig.
Plum is suidoos van Walvisbaai in die rigting van Rooibank geleë.
Namibië se spoorweë was in Augustus vanjaar presies 120 jaar oud, en watter beter geskenk kon Hope vir hierdie mylpaal ontvang?
Die Voortrekkers stel aan ons dorp en sy inwoners ‘n mooi voorbeeld. Om ons dorp skoon en netjies te hou moet ons as inwoners ook moue oprol en die besems, lappe en emmers nader trek.
Die skoonmaak van die gebou se vensters val ook mooi saam met ons land se Nasionale Skoonmaak Dag wat Saterdag landwyd van stapel gestuur was.
You must be logged in to post a comment Login