Huis Palms inbraak – nasionale speurhoof maak vuur onder Walvisbaai speurtak
Die Namibiese Polisie op Walvisbaai het ‘n amptelike navraag van die Polisie Hoofkwartier in Windhoek ontvang, oor vordering wat daar gemaak word met die ondersoek na ‘n reeks inbrake by die Huis Palms tehuis vir bejaardes op Walvisbaai.
Daar is spesifiek uitgevra oor die inbraak by die bejaarde mnr Hans de Jager se woonstel, waar ingebreek is terwyl hy op sterwe in ‘n hospitaal in Windhoek verkeer het. Meneer de Jager is op 5 Januarie vanjaar oorlede, sonder die wete dat hy dae voor sy dood rot en kaal gesteel is.
Huisware, ‘n skoot-rekenaar, kameras en ‘n selfoon is by hom gesteel.
Die amptelike navraag is deur Kommisaris du Toit, die bevelvoerende offisier waaronder alle speurtakke landswyd resorteer, uitgereik en aan die bevelstruktuur van die Namibiese Polisie in Erongo op Walvisbaai gerig. Daar is ook by monde van twee bronne bevestig dat die Teenkorrupsie Eenheid op Swakopmund ook navrae gerig het, aangesien daar vrae is waarom hierdie saak reeds vir die afgelope vyf maande sloer. Hoewel daar vingers na twee verdagtes wys, is nog geen optredes gemaak nie.
Navrae is gerig aan Adjunk-Kommisaris Otilie Kashipulwa, wat beweer daar is twee verdagtes in hegtenis geneem en dat die sake ondersoek is. Daar is geen rekord by die landdroshof op Walvisbaai wat staaf dat twee verdagtes in hegtenis geneem is nie. Daar is wel bewyse dat een van die verdagtes wel vir ‘n paar uur in aanhouding was vir ondervraging, maar dat die polisie niks meer wys kon word nie. Daar kon vasgestel word dat gesinslede van wyle mnr Hans de Jager ‘n skrywe aan die Namibiese Polisie Hoofkwartier asook die Teenkorrupsie Eenheid gerig het, waar dit bevraagteken waarom die saak so lank sloer. Daar was ook gerugte dat die dossier vir ‘n paar weke soek was, maar dat die amptelike skrywe van Kommisaris du Toit tot ‘n koorsagtige soektog gelei het, waartydens die dossier weer opgespoor kon word.
You must be logged in to post a comment Login