Huis Palms inbrekers pleit skuldig

‘n Voormalige werknemer van die Huis Palms tehuis vir bejaardes op Walvisbaai, Edwina Lubbe (35) en haar lewensmaat, Joseph Levy (29), het Maandag in die landdroshof op die hawedorp skuldig gepleit op ‘n klag van diefstal na ‘n inbraak by dié ouetehuis se privaat wooneenhede aan die einde van 2015.
Daar was ‘n tweede inbraak waarin die twee ook verdagtes is, maar die saak is verlede jaar voorlopig teruggetrek.
Beide is ‘n boete van N$1000 of drie maande gevangenis-straf opgelê. Na die skulderkennings wou nie een van die twee verduidelikings verskaf waarom hulle skuldig gepleit het nie.
Reeds in die eerste dae na die inbraak was daar sterk vermoedens dat dit die werk van iemand op die perso-neel van Huis Palms kon wees. In al die voorvalle was daar geen tekens van kragdadige toegang tot die eenhede waarby inge-breek is nie.
Daar word vermoed dat spaarsleutels van die wooneenhede, wat deur die tehuis bewaar word, gebruik is.
In sy strafoplegging het landdros Rhivermo Williams gesê voorvalle van diefstal is volop en dit is ‘n ernstige misdaad. Hy het bygevoeg die feit dat ‘n bejaarde besteel is, ook vir hom baie ernstig is.
Die tweede inbraak-saak by Huis Palms waarin Lubbe en Levy die verdagtes is, is verlede jaar voorlopig van die rol geskraap. Die slagoffer was ‘n ene mnr. Hans de Jager. Mnr. De Jager het op daardie stadium in ‘n Windhoekse hospital op sterwe gelê. Hy is dae later oorlede sonder die wete dat by sy wooneenheid ingebreek en hy besteel is.
Wyle mnr. De Jager se kinders het in die maande wat daarop gevolg het druk op die Raad van Direkteure van Huis Palms geplaas oor die onprofessionele wyse waarop die aangeleentheid rondom die de Jager-inbraak hanteer is. Huis Palms se versekeraar moes nagenoeg N$80 000 opdok om mnr. De Jager se boedel vir die verliese van die inbraak te vergoed. ‘n Sekere raadslid het daaroor trekpas gekry.
De Jager se dogter, mev Suzelle de Lima het gister telefonies vanuit Suid Afrika haar tevredenheid daarteenoor uitgespreek dat geregtigheid ten minste in een van die voorvalle geskied het. Sy het hoop uitgespreek dat die Namibiese Polisie Levy en Lubbe opnuut kan ondervra oor die inbraak by wyle mnr. Hans de Jager se wooneenheid, sodat die saak ook afgehandel kan word en die familie finaal met sy dood vrede kon maak.

You must be logged in to post a comment Login