Husab-manne vang bende wildstropers
‘n Bestuurder verbonde aan die Husab-myn het vandeesweek vertel hoe hy en sy span onlangs hand bygesit het in die inhegtenisname van vier vermeende wilddiewe wat danksy hul flink optrede met zebra-karkasse in hul besit betrap is.
Dit was net na middernag op 26 September vanjaar toe mnr Alfred Aoxumub, verbonde aan Husab se sekuriteitsbeheer, mnr Shawn Poulton, ‘n skofbestuurder op die myn, telefonies versoek het om die Arandis polisie te ontbied. Daar was verdagte voertuigbewegings in die nabye Khan Rivier.
Daar is vasgestel die Arandis-polisie is in ‘n jaagtog gewikkel met vermeende wildstropers, en daar was die moontlikheid dat hierdie verdagte voertuigbewegings daarmee verband kon hou.
Poulton het nie gras onder sy voete laat groei nie, en sy Protospan van die myn met hom saamgeneem en per viertrekvoertuig gaan ondersoek instel.
Terwyl Poulton en sy manne in die rivierbedding afbeweeg kom hulle op ‘n polisievoertuig af wat in die sand vassit. Daar was twee beamptes, een ‘n vrouebeampte, by die voertuig. Hulle het die gestrande polisievoertuig toegesluit en die polisielede het by Poulton se groep op sy voertuig aangesluit.
Sowat 4km verder in die rivierbedding het hulle op ‘n wit Isuzu-voertuig met vier onbekende mans afgekom. Die mans en die voertuig is deursoek, maar niks is gevind nie. Dit is toé dat Poulton ‘n bloedspoor op die grond opmerk.
Aangesien die mans nog steeds verdag voorgekom het, is die spoor gevolg en daar is op die zebra-karkasse afgekom waar dit versteek was. Die mans is in hegtenis geneem en het reeds die volgende dag ‘n eerste verskyning in die landdroshof op Swakopmund op ‘n klag van wildstropery gemaak.
You must be logged in to post a comment Login