Inbraak los meer vrae as antwoorde

‘n Inbraak oor die naweek by T&M Machine Tools op Walvisbaai, ‘n bekende handelaar in gereedskap en werksmasjinerie, los die eienaar mnr. Turnino Haskell met vrae. Inbrekers het hom groot skade berokken, maar baie vreemd is dat niks op die ou einde gesteel is nie.
Volgens mnr. Haskell het die inbreker of inbrekers presies geweet waar die brandkluis was.
“Die kluis was gelukkig leeg. Hulle het eers ‘n venster oopgebreek, maar ons vermoed die diefwering het hulle gekeer. Hulle het toe deur die dak ingebreek, die alarm drade geknip en die kluis uit ‘n kas waarin dit versteek staan gehaal. Hulle het die kluis gelos.
Iemand het my vroeg gisteroggend gebel en ingelig oor die inbraak. Ek het  my na die besigheid gehaas en met my aankoms ‘n lid van G4S op die dak van my  gebou gekry. Volgens hom waar en volgens hom het hy verbygery en gesien dat die alarm se gidsliggie nie brand nie.
Aanvanklik is gedink die diewe skuil nog in die gebou. Na ‘n spanninsvolle soektog is gevind die booswigte was reeds weg.
Haskell sou gister nadere ondersoek na die voorval instel deur onder andere na beeldmateriaal op die sekerheidskameras te kyk. Hy is ongelukkig oor die fisiese skade wat die inbraak hom berokken het.
Na afloop van die gebeure het ‘n sekerheidstegnikus gesê dit is raadsaam om ‘n bykomende sensor tot alarmstelsels te voeg. Die sensor word in die dak bygevoeg en werk net soos die ander sensors op beweging. Die sensor hou letterlik ‘n ogie oor die alarm se sentrale stelsel. Die inbreker sal dus die alarm aktiveer nog voordat enige drade geknip kan word.
Foto’s dui op die inbraaktoneel en die skade wat aangerig is.

You must be logged in to post a comment Login