Jy kan nou hengel vir N$50 per dag
Hengelaars wat vir ontspanning hengel kan voortaan ‘n pro-rata hengelpermit teen N$50 per dag uitneem. Daar word ook binnekort regulasies uitgevaardig wat voorsiening sal maak daarvoor dat bestaanshengelaars van gratis permitte voorsien word.
Met betrekking tot ontspanningshengelaars: Die permit kan ook vir sewe dae teen N$350 (N$50 x 7) uitgeneem word, of N$1500 vir ‘n maandpermit (N$50 x 30).
Die Minister van Seevisserye en Mariene Hulpbronne, mnr Bernhardt Esau, het gister in ‘n intêrne memorandum die jongste verwikkelinge aan amptenare van die ministerie uiteengesit.
Daar sou gister ook ‘n openbare verklaring in hierdie verband uitgereik word.
Die visseryeministerie se hoofkantoor was die afgelope week hewig deur visserye-amptenare gekritiseer, omdat daar geen vooraf konsultasies oor die meer as 10 000 % prysverhoging van hengelpermitte was nie. Jan Publiek het ook heftig gereageer. ‘n Maandpermit was N$14 en ‘n jaarpermit N$168.
Die memorandum lui ook dat daar binnekort ‘n regulasie in terme van die Wet op Mariene Hulpbronne uitgevaardig gaan word, wat riglyne verskaf wie as bestaansvissermanne kan kwalifiseer. Dit wil sê Namibiërs wat ‘n direkte bestaan uit hengel voer.
Diegene wat reeds by die Ministerie of by die Hanganeni Artisanal Fishing Association as bestaansvissermanne geregistreer is, sal alreeds van gratis permitte voorsien word.
You must be logged in to post a comment Login