Kudus leer Walvisbaai ‘n Rugbyles

Kudus 1 het Saterdag in Narraville behoorlik vir Walvisbaai laat les opsê toe hulle hul buurmanne met 60 – 35 oorrompel het. ‘n Slim wedstrydplan deur afrigter Callie Van Wyk, was egter die doodsteek vir Walvis met Kudus wat hul met hardlooprugby uitoorlê het. Kudus wat sonder vyf van sy gereelde eerste span voorspelers soos Chris Klaassen, Grandt Nash, Immo Dresselhaus, Joe Hermann en Ricardo Kubas moes klaarkom, het hul nietemin uitstekend van hul taak gekwyt en behalwe vir die dryfmaal bewegings wat Walvis oorheers het, het Kudus in die skrums en vaste los deeglik rekenskap van hulself gegee.
Agterlangs was Aurelio Plato en Charlton Stevens by die nasionale spanne betrokke en ook nie beskikbaar nie. Alles in ag genome het Walvis op volsterkte en vol hoop Narraville toe gekom om die een te wen. Toe hul so vroeg as die 3de minuut oor dryf vir hul eerste drie en die doelskop suiwer deur die pale seil, het dit gelyk of dit ‘n werklikheid kan word.
Kudus se eerste punte kom vanaf ‘n strafskop deur Ulli voordat Elmo Van Der Bijl die drie van die dag gaan druk het wat nog lank by JR Jacobs sal spook. Nog 2 strafskoppe en ‘n drie elk deur Bjorn Block en Percy Nash laat Kudus rustyd met 25 – 13 voorloop. Walvis slaan kort na rustyd weer toe en laat krimp die telling na 25 – 18. Die wiele van Walvis val egter hierna af met Kudus wat met elke moontlik bal hardloop en hul verdediging telkemale aan flarde ruk. Drie prag drieë in die bestek van 10 minute deur die opwindende Zane Williams, Irvin Damants en Percy Nash rek Kudus se voorspring skielik na 46 – 18.
Toe die twee Jacobs broers, Lloyd en JR koelkas toe gestuur word vir ongedisiplineerde spel en 10 minute later terugkom, was die skrif reeds aan die muur met Kudus wat met 53 – 25 voorloop. Kudus se plaasvervanger Anthony Jevu teken Kudus se laaste drie aan terwyl Walvis ook met n 4de drie beloon word om die eindtelling 60 – 32 in die tuisspan se guns te maak.
Alhoewel ‘n oortuigende oorwinning, is daar een of twee aspekte wat nie op standaard is nie. Die lynstaan werk kort aandag, terwyl die beheer van die bal vanaf afskoppe dringende aandag verg.
Te veel punte word aangeteken onmiddelik nadat Kudus punte aangeteken het. Vanaf die veld pla ook een of twee dinge.
Wil voorkom of daar ‘n tekort aan wedstryd balle is terwyl dit onaanvaar is dat Kudus op sy tuisveld met Wit truie moet speel. Kudus se naasbestes het nog ‘n wen weggegooi met swak afrondingswerk.
Die span van die Coastal Sharks het na 80 minute se sweet die kragmeting met 26 – 16 gewen. Kudus is die naweek af voordat hulle Windhoek toe reis om teen United te speel.

You must be logged in to post a comment Login