Kus wen groot met Wanderers se 2de Trekking

Wanderers Sport Klub in Windhoek se miljoen dollar trekking is al reeds die afgelope 25 jaar bekend. Met die oog op Wanderers se 100-jaar vieringe in 2020 het hulle hierdie jaar ‘n paar veranderinge gemaak aan die normale struktuur van die kompetisie ten einde dit meer opwindend te maak. Die volgende veranderinge is aangebring:

· Die hoeveelheid trekkings is verhoog vanaf 3 na 5. Dit beteken dat kaartjie kopers nou soveel meer geleenthede het om te wen. Elke kaartjie wat gekoop word is outomaties in al die trekkings van daardie punt af vorentoe, selfs al wen die kaartjie met een van die ‘Early bird’ trekkings.
· Die aantal kaartjies is van 4725 verminder na 3507. Dit maak die kanse om te wen soveel meer.
· Daar is twee motors as deel van die pryse ingewerk wat met die tweede en vierde ‘early bird’ trekkings gewen kan word.
· Die finale trekking waar die groot prys van ‘n miljoen dollar weggegee gaan word val saam met die klub se 100ste verjaarsdag in Februarie 2020.
Die donasie per kaartjie beloop N$1 000 per kaartjie. Kaartjies word verkoop deur goedgekeurde verkopers in meeste dorpe regoor Namibia asook in Windhoek by die klub se kantoor. Die totale prysgeld wat deur Wanderers uit-gegee word met die kompetisie beloop N$2 515 000, wat die twee Kia Picanto’s insluit. Dit is kontant wat dadelik ‘n inspuiting is in die ekonomie en ‘n groot verskil kan maak aan individue wat die pryse wen. Die klub het uitgawes om die kompetisie suksesvol te bedryf. Die wins word jaarliks aangewend om die klub te bestuur en fasiliteite te onderhou. Die miljoen dollar trekking is een van die grootste bronne van inkomste vir die klub, en sonder die betrokkenheid van almal wat kaartjies koop en verkoop, sal die klub nie so suksesvol kan bestaan as wat hy huidiglik doen nie.
Die afgelope naweek het die 2de ‘early bird’ trekking plaasgevind en vir die eerste keer in die geskiedenis het 3 mense van die kus, die eerste 3 pryse van een trekking gewen. Mnr Philip Deetlefs het met kaartjie nommer 1852 een van die twee Kia Picantos gewen. Ottokar Krahenbuhl het met kaartjie 1211 die tweede prys van N$50 000 kontant gewen en C van Niekerk het die derde prys van N$30 000 kontant gewen met kaartjie nommer 1822. Die wen kaartjie is deur Hare Kruger van Otjiwarongo verkoop en die tweede en derde prys kaartjies deur Percy van Zyl van Walvisbaai.
Kaartjies is vinnig besig om uit te verkoop met slegs 766 kaartjies wat nog beskikbaar is ten tyde van die plasing van hierdie berig. Mense word aange-moedig om so spoedig moontlik met Wanderers se kantoor by tel 061-242069 of epos club@wanderers.org.na in verbinding te kom om hulle kaartjies te bekom om in aanmerking te kom vir die 3de en 4de early bird asook die finale trekking waar die groot prys van een miljoen dollar getrek gaan word. Wanderers beoog om voor die 4de ‘early bird’ trekking al die kaartjies uit te ver-koop.

You must be logged in to post a comment Login