Narraville Primêre Skool bring hulde aan J.A.N. Opperman
‘n Bekende oud-onderwyser en skoolhoof van Narraville, mnr. J.A.N. Opperman (Meester Oppies) is Saterdag op die hawedorp op die rype ouderdom van 88 oorlede.
Wyle Meester Oppies het diep spore in die onderwys getrap. Hy het sy onderwysloopbaan in die sestigerjare in Suid Afrika begin. Hierna is hy na Namibië en is reeds sedert die vroeg sewentigerjare op Walvisbaai. Baie bekende Walvisbaaiers het onder sy bekwame hand en leierskap hul skoolloopbane voltooi.
In die meegaande artikel bring die Narraville Primêre Skool hulde aan hierdie besonderse en geliefde karakter:
“Die vloedgolf van die lewe het baie deinings. Al sou die winde seewaarts waai, bereik die golwe die oewer. Selfs die water van die diepste oseaan bereik die strand en vloei weer terug. So kan die lewensiklus van die mens vergelyk word.
In ag genome, met die voorgaande bring Narraville Primêre Skool eer aan die ontslape, voormalige Skoolhoof Meester J.A.N Opperman. Meester Jan Opperman soos hy bekend was, was gebore op Orchard naby Worcester. Na skoolopleiding bekwaam hy hom vir die onderwys aan Hewit Opleidingskollege. Sy eerste onderwyspos was op Topline- ‘n landlike gebied naby Upington – in die Republiek van Suid Afrika.
Hy verhuis na Bethanie vir sy volgende onderwysbetrekking. Hy meld al hier aan vir onderwyserdiens in 1974 as Adjunk Prinsipaal. Hy word bevorder as hoof in 1979, waarna hy op 65 jarige leeftyd met welslae die tuig neerlê in 1994. Sy gevatte en spreekwoordelike uitdrukking van gedagtes kan deur baie in herinnering geroep word.
Baie mense het baat gevind by sy wysheid met bertrekking tot die homeopatiese geneeskunde. Sy ywer en deursettingsvermoë was die deurbraak van sukses vir baie leerlinge. Hierdie eienskap word oor die landsgrense (Botswana, Suid Afrika en Duitsland) besing.
Die blou Toyota Cressida se toeter was vir bekendes en onbekendes gedruk. ‘n Stewige handdruk was die oorsaak dat min mense wou hand uitsteek. Die skool was sy alles en kon hy vir ure lank oor die stand van onderwys praat. Sy vergelykende studies het menigte kundiges op alle gebiede die hoof gebied.
As ‘n deurwinterde en vreeslose onderwysman het die herfseisoen van die lewe hom omvou. Daar is winter in ons gemoed. As die lentebloeitydperk sal aanbreek weet ons as skool en gemeenskap u boom bloei in die hemel. Die nagedagtes aan hom laat die somerson oor ons skyn en daarna die heilsame plotseling van die water van die Atlantiese Oseaan op te soek. U goedheid en guns sal ons nastreef.
Vaarwel tot wedersiens. Bou en behou die leuse van ons skool was die gronslag van u bestaan.
Rus sag aan Jesus boesem Meester. Alles het sy bepaalde tyd sê die Prediker. Ons gun u die rus.
Personeel, Skoolraad, Leerlinge, Ouers en Gemeenskap.
You must be logged in to post a comment Login