Nuwe lewe vir ou sardynskuit se agterstewe

Diegene wat glo daar is nie toekoms in die verlede nie, kan gerus die stelling heroorweeg. Dit is duidelik uit die pragtige verhaal wat op die oomblik op Walvisbaai ontvou rondom Bordeaux II, ‘n ou sardynskuit wat later in ‘n langlynboot omskep is, en intussen in ‘n vervalle toestand op ‘n slopingsterrein afgetakel word.

Daar is ‘n voorverhaal tot die verhaal. Dit begin by die Brinke van Walvisbaai. Meer spesifiek die visvang Brinke wat oorspronklik van Lambertsbaai af kom.
Walvisbaaiers wat hulle in die drie dekades sedert die vyftigerjare op een of ander manier op Walvisbaai bevind het sal onthou dat ‘n Oom Basie Brink twee visserskuite vir die vang van sardyn en ansjovisangste aangeskaf het. Hy vernoem die skuite toe onderskeidelik Barneveldt en Nimrod. Ongelukkig was daar toe reeds twee vaartuie in Europa met dieselfde name, en oom Basie herdoop sy skuite toe na Basie I en Bordeaux I.
Beide die skuite het gesink.
In die middel sestiger jare laat oom Basie vir hom twee nuwe skuite in die Kaap bou. Nog deur Louw & Harveson wat Walvisbaaiers vandag sal kan onthou as Globe Engineering. Die twee nuwe skuite, “beide ses en sestig voeters”, word toe onderskeidelik Basie II en Bordeaux II gedoop.
Oom Basie het sy twee seuns, Andries (Basie II) en Frikkie (Bordeaux II) as skippers aangestel. Basie II het ook later jare gesink.
Oom Basie verkoop Bordeaux II toe aan sy seun Frikkie.
Bordeux II se romp is in die sewentigerjare met ‘n verdere vyftien voet laat verleng. Die sardyn het al dieper begin beweeg en die skuite moes rowwer water aanpak. Die skuit se kapasiteit om vis te dra moes ook vergroot. Hoe verder die vis wegbeweeg, hoe meer vis moes gevang kan word om winsgewend te bly. Die houtskuite kon in hul oorspronklike lengtes nie meer met die nuwe generasie staalskuite en die nuwe uitdagings in die sardynbedryf meeding nie.
Frikkie Brink het in 1984 weens sy gesondheid afgetree. Hy en sy eggenote, tannie Elize, asook oom Basie het Walvisbaai vaarwel toegeroep en na hul tuisdorp Lambertsbaai teruggekeer. Hulle kinders was toe alreeds almal uit die huis, elkeen op sy eie lewenspad in Suid Afrika. Insluitend hul seun Johan Brink wat in 1974 by die Walvisbaai Hoërskool matrikuleer het, en waar die storie oor Bordeaux II se herlewing begin:
“Bordeaux II is uiteindelik verkoop aan ‘n fabriek wat dit omgebou het in ‘n langlynboot”, het Johan Brink Maandag op Walvisbaai aan namib times verduidelik. Dit is soos die skuit uit die Brink familie se besit weg is.
Johan sê hy het homself in die boubedryf in Suid Afrika gevestig. Hy was ook in Namibië by die oprigting van die Swakopmund Hotel en die Windhoek Buiteklub Oord onder die Stocks & Stocks vaandel betrokke. Meer onlangs met die oprigting van die Strand Hotel op Swakopmund onder leiding van Stefanuti Stocks.
“In 2011 het ek die 50ste bestaansjaar van die Walvisbaai Hoërskool bygewoon. Gedurende ‘n uitstappie op ‘n dolfyntoer kom ons op Bordeaux II af waar sy in haar gehawende toestand voor anker lê. Die tyd het haar ingehaal. Selfs haar lewe as langlynboot was nou verby. Dit was duidelik dat die skuit haar lot afwag om opgebreek en afgetakel te word”.
Johan verduidelik hy kon die eienaardige gesig nie vergeet nie. Hy onthou hoe hulle as kinders hul pa in hul agterplaas gehelp het om Bordeaux II se nette te werk. Elke ander jaar moes hy ‘n nuwe naamplaatjie vir die skuit maak. Dit was op ‘n merantihoutplankie. Die naam is met ‘n beitel uitgekerf en wit olieverf in die letters geverf om die naam sigbaar te maak op die hout.
Toe in 2014 het hy ‘n re-ünie kom bywoon. Dit was van die 1974-matrieks van die Walvisbaai Hoërskool. Dit was drie jaar na sy eerste “herontmoeting” met Bordeaux II.
“Nie lank hierna nie, ontvang ek ‘n boodskap dat Bordeaux II op land geplaas en afgetakel gaan word. Ek het met Alan Louw op Walvis-baai in verbinding getree en hy het dit bevestig. Ek moes iets doen”, het Johan Maandag verduidelik.
“Nadat foto’s van die boot se romp aan my gestuur is, het ek op die idee gekom om Bordeaux II se agterstewe te bekom. Ek is deeleienaar van ‘n wildsplaas in Gauteng en ek het be-sluit Bordeaux II se sexy, ronde gat gaan ‘n kroegtoonbank op my wildsplaas word”.
Maar toe is daar teëstribbeling uit ‘n onverwagse oord: “Waarom ‘n Walvisbaai skuit in Transvaal gaan neersit?”, wou Johan se vrou weet. “Dié skuit se gat moet Lambertsbaai toe”. Sy stel toe voor hulle gebruik dié rompstuk om hul huis op Lamberts-baai van ‘n “regte, egte aftreebalkon” te voorsien.
En nou is die bal aan die rol vir Johan en sy vrou se “regte, egte aftreebalkon”.Hy was vandeesweek op Walvisbaai om die projek af te handel. Die agterstewe van die skuit was Woensdag byna heeltemal afgesny van die res van die skuit.
‘N Hyskraan het dit op een van oud-skoolmaat André Blaauw (Blaauw’s Transport) se vragmotors geplaas. Dit sal tot op Clanwilliam vervoer word. Daar gaan dit met behulp van ‘n vragmotor, wat met ‘n hyskraan uitgerus is tot op Lambertsbaai karwei word.
Teen die tyd dat die balkon op Lambertsbaai staan, sal die res van Bordeaux II wat die geskiedenis nie kon red nie lankal reeds weg wees.

You must be logged in to post a comment Login