“Nuwe” Taxitariewe nie geldig – Verkeershoof

‘n Vrou van Narraville op Walvisbaai is gisteroggend voor haar woning deur ‘n taxibestuurder aangerand, toe sy glo geweier het om ‘n verhoogde taxi-tarief te betaal. Daar is gistermiddag amptelike bevestiging daarvoor ontvang dat geen nuwe taxitariewe van krag is nie, en die publiek dus moet aandring op die huidige tariewe.

Verskeie soortgelyke klagtes is hierdie week deur die namib times ontvang van lede van die publiek wat deur taxibestuurders hieroor geterroriseer word. Taxibestuurders dring aan daarop dat daar op 1 November drastiese verhoogde tariewe in werking getree het. Lede van die publiek weier om hierdie verhoogde tariewe te betaal en dit lei tot konfrontasies wat uitloop op verbale aanvalle en soos in die geval gisteroggend tot fisiese geweld. Die taxibestuurder sou glo ook dreig om die vrou se drie-jarige dogtertjie aan te rand.
Die vrou het die taxi se registrasienommer neergeskryf toe die bestuurder, wat haar aangerand het, wegry. Sy het die saak by die Narraville polisie-stasie aangemeld, waarna die taxibestuurder ontbied is.
By die polisiestasie is die taxibestuurder oor die sogenaamde “nuwe tariewe” gekonfronteer. Hy het gou die aftog geblaas en het die vrou om verskoning gevra. Sy het daarop geen klag gelê nie.
Navrae aan die Hoof van die Munisipale Verkeersafdeling, Superintendent Eben Platt het aan die lig gebring dat taxibestuurders wat op verhoogde tariew aandring die publiek mislei. Dit is ‘n vorm van wanvoorstelling wat krimineel strafbaar is.
“Ons as plaaslike owerheid sou geweet het as daar tariefverhogings was. Ons dra geen kennis daarvan nie en dus is huidige tariewe van krag. Die Padvervoer Raad sou enige verhogings of bykomende tariewe op wetlike wyse aangekondig het”, het Platt verduidelik.
Hy het bygevoeg die Namibiese Bus- en Taxivereniging boonop geen magte het om nuwe tariewe aan te kondig nie. Daar is ‘n lys van nuwe tariewe in omloop wat deur die Namibiese Bus- en Taxiverniging gestempel is, en aan die Walvisbaai-tak van dié nasionale liggaam aangestuur is. Dit is die tariewe lys waarmee taxibestuurders te koop loop, maar die lys is ongeldig en die publiek kan dit summier ignorer en aandring op die huidige tariewe.
Mnr. Platt het ook ‘n ernstige waarskuwing aan taxibestuurders en taxi-eienaars gerig om hul nie skuldig te maak aan wanvoorstellings nie. Enige vorm van geweld sal ook nie geduld word nie, en taxibestuurders loop die risiko om hul openbare vervoerpermitte te verloor sou hulle daaraan skuldig bevind word.
Daar is geen nuwe tariewe nie. Die publiek moet by die huidige tariewe bly, is gesê.

You must be logged in to post a comment Login