Ongenooide besoekers “verlei” glo plaaswerkers
namib times 19 Junie 2015
Boere teen die Omaruru rivier, in Hentiesbaai se omgewing, ondervind glo probleme met “besoekers” van hoofsaaklik Hentiesbaai, wat kuiertjies by hul plaaswerkers aflê en hulle omkoop met voedsel en soms drank.
Een van die plaasboere, wat verkies om anoniem te bly het die situasie aan namib times verduidelik en ook sy kommer uitgespreek.
Volgens hom gebeur dit op gereelde grondslag dat persone sonder sy toestemming sy grond betree en vrugte by sy plaaswerkers gaan koop.
Volgens die kommunale boer is die meeste van hulle (boere) nie permanent op die plase teenwoordig nie, aangesien hulle ander belange ook het en meestal in die omliggende dorpe woon.
Die plaaswerkers word blykbaar met drank en voedsel omgekoop en ongesonde vriendskapbande word glo tussen werkers en besoekers gesmee.
“Dit is privaateiendom, maar hierdie mense kom
op die plase sonder toestemming van die eie-naars, alhoewel hulle ons persoonlik ken.
Dit is hoe die broeigrond vir veediefstal en ander kriminele aktiwiteite geskep word,” is die plaasboer se mening.
In die verlede het van sy vee blykbaar ook onverklaarbaar verdwyn.
Sommige van die ongewenste besoekers betree blykbaar die plase onder die voorwendsel dat hulle die natuurskoon besigtig, andere kamp langs die rivier uit en gebruik dan die verskoning van ‘oorskietkos’ om die plaas-arbeiders nader te lok.
Andere weer, betree sommer oop en bloot die plase en gaan reguit na die werkers met onderduimshede,” vertel die boer.
“Hierdie mense sal moet besef dat hulle privaat eiendom betree en ‘n kriminele saak kan aanhangig gemaak word.
Ek het alreeds ‘n bekende persoon vir betreding aangekla en sal nie huiwer
om dit weer te doen nie,” het hy ter afsluiting gewaarsku.
You must be logged in to post a comment Login