Oud-Walvisbaaier bekroon met ATKV-toekenning

Die oud-Walvisbaaier, Linda de Jager, het op 10 Mei 2019 ‘n ATKV-toekenning ontvang vir die reeks, “Daar’s ‘n Plek met Coenie” vir Via.

Via is Media-24 se 24-uur leefstyl program.
Die toekenning was vir die moedersdag episode “Moederliefde” met die bekende Coenie de Villiers as aanbieder. Die reeks is deels deur Toyota Suid-Afrika befonds en vervaardig deur Endgame Media.
Sy het die toekenning opgedra aan “al ons moeders”. Linda is die dogter van wyle Christo de Jager (‘n oud-burgemeester van Walvisbaai) en Renate de Jager.
Die episode vertel die verhaal van ‘n moeder wat ‘n stryd voer om haar seuntjie wat aan Neuro-blastoma kanker lei se lewe te red. ‘n Videolink is beskikbaar op die koerant se webblad.
Dis die tweede keer dat die Namibiër met ‘n ATKV-toekenning vereer word. Linda is ook in 2009 bekroon vir haar militêre geskiedenis-reeks, “Grensoorlog” wat ook mettertyd in Engels vertaal is as “Bush War”. In die reeks is Swapo-kaders vir die eerste keer aan die woord gestel saam met eertydse soldate van die Suid-Afrikaanse weermag.
Linda is ook die skepper van die geliefde Namibiese animasie karakter /Gasa wat deur die FNB Trust in Namibië befonds is.
Die animasie word tans deur die Legal Assistance Centre gebruik om bewustheid oor stroping te skep – en is in vyf Namibiese tale beskikbaar.
Linda – wat onder die vaandel Endgame Media – kreatief skep is ook die inisieerder van verskeie landskunsprojekte vir omgewingsbewaring in Namibië – in samewerking met bekroonde internasionale kunstenaars soos Strijdom van der Merwe. Die grootskaalse perdegeoglief op Klein-Aus Vista word einde Mei 2019 deur die kunstenaars van Site-Specific voltooi as a simbool van oorlewing.
Die lewensgrote geoglief van die kunstenaar Anni Snyman, spreek tekens van aardverwarming aan. Die wilde perd word as boodskap van aanpasbaarheid daargestel.

You must be logged in to post a comment Login