Padveiligheidsoperasie sit verkeersoortreders terug op hul plek

Die munisipale verkeersowerheid op Walvisbaai het sy optrede teen konstruksievoertuie verskerp en ‘n totaal van dertig vragmotors is sedert verlede Sondag vir onpadwaardigheid van die pad gehaal. Daarbenewens is vragmotorbestuurders ook vasgevat oor hul vragte wat nie met nette toegemaak is nie.

Van die sondebokke is wipbakvragmotors van die Sjinese konstruksie-maatskappy China Harbour & Engineering Company (CHEC) asook vragmotors wat op kontrak sout tussen die soutpanne en die Walvisbaai hawe aanry.
Die verkeersowerheid se optrede vorm deel van ‘n groter padveiligheidsoperasie waartydens 12 dronkbestuurders ook die naweek op Walvisbaai vasgetrek is, 36 voertuigbestuurders beboet is wat stoptekens verontagsaam het en 12 mense wat in hegtenis geneem is met lasbriewe vir onbetaalde verkeersboetes.
Ander oortreders wat vasgevat is: 13 mense is aangekla wat nie veiligheidsgordels gedra het nie, vyf motoriste wie se motors onpadwaardig was of sonder nommerplate was, vyf spoedoortredings, sewe bestuurders wat op hul selfone besig was, vier bestuurders is beboet omdat hulle sonder wettige bestuurslisensies bestuur het en twee mense is vasgevat omdat hulle versuim het om aan die instruksies van ‘n verkeersbeampte gehoor te gee.

You must be logged in to post a comment Login