Pro-Ed Akademie Nuus

“Bou ‘n skoolsaal want dis die hart van die skool” was die reaksie van ander skole se skoolhoofde toe daar gevra is wat eerste gebou moet word, na die voltooiing van Pro-Ed se laerskool in 2015.

Die saal was ‘n groot droom en ‘n duur droom daarby. In 2017 met die finansiële hulp van ouers en instansies word hierdie droom uiteindelik bewaarheid. Na 6 maande se bouwerk word die eerste funksie gehou, nadat daar nog die middag geskarel is om die laaste venster geïnstalleer te kry. Nou, ‘n paar maande later, staan Pro-Ed Akademie se droom met sy kleurbaadjie aan, gereed om nog baie herrineringe te skep.  Die kleurbaadjie was ‘n geskenk van NEXUS boukontrakteure, sou iemand wonder.

As jy met die bestuur van Pro-Ed Akademie gesels, is hulle eerste reaksie om te noem hoe dankbaar hulle teenoor Swakop-mund se gemeenskap staan, vir die volgehoue ondersteuning van ouers en instansies, selfs nou, in moeilike ekonomiese omstandighede.

Ondernemings wat uitgesonder moet word is NEXUS Bou-kontrakteure, Windhoek Consulting Engineers (WCE), Christo Pieterse (landmeter) vir werk gedoen teen geen vergoeding, asook elke liewe ouer wat bygedra het om die droom te bewaarheid.

Lesers, hou gerus die pers dop.  Pro-Ed Akademie se Hoërskool is reeds dakhoogte en bestuur vertrou dat personeel en leerlinge reeds in 2019 daar sal kan intrek.

 

 

You must be logged in to post a comment Login