Skok en ongeloof toe bekende Jack Jordan dood aangetref word

Emosies van skok en ongeloof heers sedert Saterdag nadat die nuus bekend geword het van die dood van ‘n bekende in versekeringskringe aan die kus, mnr Jack Jordan. Jordan het volgens alle beskikbare aanduidings Saterdag sy eie lewe geneem.
Familie, kollegas en vriende van wyle mnr Jordan is verslae. Jordan sou glo eers probeer om homself in sy motor te vergas. Die poging het volgens die polisie misluk.
Jordan het glo toe sy polse met ‘n mes gesny en homself daarna ‘n steek met die mes in sy nek toegedien.
Hy het weens hewige bloedverlies gesterf.
Mnr Jordan is Saterdagoggend kort na tienuur vir die laaste keer lewend gesien. Hy het met sy motor in Kovambo Nujoma rylaan in die rigting van die soutpanne gery.
Kort daarna het ‘n bekende sakeman van Walvisbaai en ‘n vriend met hul motorfietse op mnr. Jordan afgekom. Dit was naby die soutpanne op ‘n plek wat moeilik bereikbaar en buite sig was.
“Dit was blote toeval dat ons op hom afgekom het”, is gister aan namib times verduidelik.
Mnr. Jordan het volgens bewering in ‘n bebloede toestand en kaalbolyf op die grond langs sy motor gesit. Toe hy [mnr. Jordan] die twee motorfietsryers gewaar, het hy op sy rug gaan lê.
Die twee motorfietsryers het probeer om die nooddienste te ontbied, maar daar was nie selfoonopvangs nie. Hulle het toe na die soutaanleg gejaag en kon toe die nooddienste ontbied. Hulle het hulle toe na Walvisbaai gehaas om ‘n viertrekvoertuig te kry om die mediese noodpersoneel na die toneel te vervoer.
Intussen het ‘n tweede voertuig op die toneel afgekom en ook na Walvisbaai gejaag om die nooddienste te ontbied.
Mnr. Jordan was reeds dood toe ambulanspersoneel hom bereik het.
∙Senior kollegas van wyle mnr. Jordan was intussen by mnr. Jordan se kantoor waar dokumente gevind is wat daarop dui dat hy sy selfmoord beplan het. Besonderhede oor die dokumente word as privaat beskou en is nie aan die koerant bekendgemaak nie.

You must be logged in to post a comment Login