Skote klap en lemme flits in strandmeer woonbuurt

Die rus en vrede van inwoners van die strandmeer woongebied (Lagoon) op Walvisbaai is gister erg versteur toe sekuriteitswagte op ‘n vermeende inbreker moes skiet.
In die daaropvolgende gebeure het die vermeen-de inbreker verskeie eiendomme betree, op dakke gehardloop, in erwe weggekruip ten einde ten laaste probeer om twee lede van die publiek wat hom wou aankeer met ‘n mes te steek.
In die omgewing van Lagoonstraat het ‘n huis-bewoner hom eerste in die man vasgeloop. Hy was glo gewapen met twee skroewedraaiers en ‘n Okapi-knipmes.
Toe die huisbewoner die man konfronteer het hy weggehardloop. Hy het in verskeie erwe weg-gekruip en ‘n sekuriteitsmaatskappy het twee skote op die man geskiet.
Verskeie inwoners het saam met die sekuriteits-maatskappy na die man gesoek. Twee het hom opgemerk en hom probeer vang, waarna hy eers met die mes na hulle gesteek en daarna van die wapen probeer ontslae raak het deur dit oor ‘n tuinmuur te gooi.
Foto’s wys die man kort na sy inhegtenisneming. Daar sou gistermiddag verskeie klagtes teen die verdagte aanhangig gemaak word.

You must be logged in to post a comment Login