Skraal kans dat N$1500 hengelpermit vir eers op die ys geplaas word
Teen druktyd gistermiddag was daar ‘n skraal kans dat die Minister van Seevisserye en Mariene Hulpbronne die tarief van N$1500 per hengelpermit per maand vir eers op die ys gaan plaas. Die tarief van N$14 per permit per maand en N$168 vir ‘n jaarpermit sal dan vir ‘n onbepaalde tydperk geld. Vir eers, todat die Minister van hom laat hoor sal die N$1500 tarief geld.
Daar het nie ‘n enkele N$1500 hengelpermit die naweek aan die kus verkoop nie. “Ons het nie ‘n enkele permit sedert Vrydag verkoop nie. Mense het eenvoudig omgedraai en geloop”, het ‘n amptenaar gister bevestig.
Onder normale omstandighede word daar tussen 100 en 300 permitte oor ‘n naweek verkoop.
Vakansietye beloop dit duisende permitte.
Die amptenaar het verduidelik dat selfs hulle deur die 10 000 % verhoging onkant betrap is. “Ons is nie in die saak geken nie. Dit sou tog beter wees as alle belanghebbendes in die saak geken was.
Ons as beamptes is ongelukkig daaroor, want selfs ons dink die N$1500 is malligheid”.
Ten spyte daarvan dat die N$1500 permit haas onbekostigbaar is, sal dit ook lei tot die vernietiging van sake-bedrywighede wat op hengelaktiwiteite aangedrewe is, het die amptenaar gesê. Diegene wat hengelgerei en aas verkoop, hengeltoere aanbied en dorpies soos Hentiesbaai wat om hengel gebou is, staar vernietiging in die gesig.
Teen druktyd was daar nog gewag op ‘n finale antwoord van die Minister, Bernhardt Esau.
“As die Minister nie die nuwe tarief ter syde stel nie, sal ons almal dit moet aanvaar dat ‘n permit voortaan N$1500 per maand gaan kos”, het ‘n moedelose beampte gesê. Hy het gehoop vir goeie nuus.
∙namib times hou die saak noukeurig dop en sal ons lesers op hoogte van sake hou op Facebook.
You must be logged in to post a comment Login