Sowat 5 000 mense “groet” ds Manus Olivier tydens aanlyn roudiens

Sowat 5 000 mense het Saterdag van regoor Namibië, en ook uit die buiteland, ingeskakel op die aanlyn roudiens van wyle dominee Manus Olivier. Ds Olivier is op 7 Maart na ‘n jarelange kankerstryd op Swakopmund oorlede.

Sy eggenoot, Theresa, het vandeesweek aan Namib Times verduidelik die roudiens is vanuit die NG Kerk op Swakopmund gehou. Ds Christo van den Heever het die roudiens gelei. Die diens is deur Kanaal 7 herlei en deur middel van Facebook en Youtube kon duisende mense toegang daartoe verkry.
Wyle ds Olivier was die afgelope 33 jaar die predikant van die NG Kerk Swakopmund.
Benewens sy beroep as predikant het hy ook op ander terreine diep spore op Swakopmund: hy was onder andere betrokke by die destydse stigting en oprigting van die Pro-Ed Akademie Privaatskool, die stigting van die Swakop River Community Church (vandag bekend as Shofar Christian Church), hy was vir baie jare die voorsitter van Erongo House of Safety en het aan verskeie ander projekte deelgeneem om homself te beywer vir die werwing van siele vir Christus.
Vir hom was dit ‘n roeping om mense in nood by te staan. Juis daarom was hy altyd betrokke by haweloses en ander vorme van kwesbare mense.

You must be logged in to post a comment Login