Usakos inwoner loof polisie vir puik optrede

namib times 21-07-15

‘n Inwoner van Usakos, wat verlede week die slagoffer was van diefstal uit haar voertuig, het die koerant gekontak en haar lof en dank aan polisiebeamptes van Usakos, Arandis en Swakopmund uitgespreek, vir hul flinke optrede om haar besittings te red.

Volgens haar het sy op die betrokke dag voor ‘n be-

kende besigheid in die dorp haar voertuig parkeer om vinnig by die winkel in te glip.

‘n Swart Golf met ‘n Windhoek registrasienommer het blykbaar voor haar parkeer, maar sy het geen ag daarop geslaan nie.

Een van die Golf se drie insittendes het skynbaar houtgerus haar voertuig se deur gaan oopmaak en haar handsak gevat. Gelukkig vir haar het ‘n opmerksame verbyganger dit gesien en by haar alarm gaan maak.

Sy vertel dat sy doodseker is dat sy het haar voertuig se alarm geaktiveer, en die moontlikheid bestaan dat die trio van ‘n toestel wat die alarm se afstandbeheer blokkeer, gebruik gemaak het.

Die drie het in die rigting van Arandis weggejaag en sy het haar onmiddellik na die Usakos-polisiestasie gehaas. Sy noem dat tot die stasiebevelvoerder haar tot hulp was en met haar voertuig en nog twee polisievoertuie is hulle agter die diewe aan. Intussen het die Usakos-polisie ook hulle kollegas in Usakos en Swakopmund in kennis gestel en die voortvlugtendes is by die Arandis-brug vasgetrek. In haar handsak was N$10 700 kontant, haar selfoon en dokumente, waarvan alles teruggekry is.

Die trio het blykbaar toe alreeds haar geld tussen hulle verdeel. Hulle is op die plek in hegtenis geneem.

You must be logged in to post a comment Login