Verkragting van vrou in haar winkel op Hentiesbaai ontvou as ‘n wolhaarstorie
Die aanval en verkragting verlede Dinsdag van ‘n vrou in haar winkel op Hentiesbaai blyk nou een groot wolhaarstorie te wees. ‘n Opname deur ‘n sekuriteitskamera, wat neerkyk op die winkeltjie waar die voorval sou plaasvind, is die deurslaggewende bewys dat die vrou die gebeure van verlede Dinsdag uit haar duim gesuig het.
Sodoende kon sy die dorp se inwoners, die Namibiese publiek asook polisiebe-amptes vir die gek hou.Die moontlikheid word nie uitgesluit dat die vrou nou krimineel vervolg gaan word vir die verskaffing van ‘n vals verklaring aan die polisie nie.
Hoewel die vrou se identiteit intussen deur ‘n dagblad bekend gemaak is, sal namib times dit weerhou aangesien die vrou nog nie ‘n erkentenis in die verband teenoor die polisie gemaak het nie. Sy word regstegnies nog as die slagoffer van ‘n seksmisdaad beskou en haar identiteit mag dus nie bekendgemaak word nie. Haar identiteit mag wel bekend-gemaak word indien sy krimineel vervolg gaan word vir dwarsboming van die gereg, het namib times se regsadviseur Vrydag gesê.
“Die vrou het verlede Dinsdagoggend haar winkel oopgesluit, daaringegaan en die deur weer netjies agter haar toegetrek. Daar was geen siel naby daardie winkel se deur nie”, het ‘n sekuriteitshoof Vrydag aan namib times verduidelik. Die doodskoot vir haar weergawe van die storie lê juis daarin dat die winkel oor geen agterdeur of sy vensters beskik waardeur die vermeende verkragter ongesiens verby die kamera kon glip nie.
“As die verkragter toegang tot die winkel wou kry sou dit net deur die voordeur kon wees. Ons het meer as vier en ‘n halwe ure se video opnames bestudeer en daar was definitief geen manspersoon, of enige ander persoon, wat by die winkel in is nie”, is voorts verduidelik.
Navrae is verlede week reeds deur namib times aan verskeie bronne op Hentiesbaai gerig. Teen druktyd Donderdagmiddag wou die storie nog nie klop nie. Die koerant kon nie betyds Donderdag toegang tot die verdoemende video beeldmateriaal verkry nie. Vrydag was dit wel moontlik, en gou was dit duidelik dat daar ‘n slang in die gras is.
Verdere navrae het Vrydag aan die lig gebring dat die vrou en haar bejaarde moeder, wat Dinsdag op die slagoffer afgekom het waar sy in die winkel vasgebind gelê het, al deur die polisie met die beeldmateriaal gekonfronteer is.
“Die vrou se mond was met ‘n doek gesloer. Haar hande was voor vasgebind. Dit is ‘n eenvoudige taak om jouself met ‘n doek oor die mond te bind. Dit is ook moontlik om jouself vas te bind as jy jou hande voor jou lyf hou”, het ‘n bron verduidelik wat die toneel verlede week met sy eie oë aanskou. Die persoon sê ook die beeldmateriaal van die sekuriteitskamera het sy vermoedens nou bevestig.
Die bron het egter bygevoeg dat verkragting ‘n baie ernstige misdaad is, en hy wil nie onsensitief staan deur te sê die vrou is nié verkrag nie. “Wat ek wel sê is dat haar weergawe van die gebeure nie strook met wat ek op die beeldmateriaal gesien het nie”.
Oor die lang, blonde verkragter wat glo die daad sou pleeg het die bron gesê dat die beeldmateriaal dit bo alle twyfel uitskakel. Benewens die vermeende slagoffer was die enigste menslike beweging by die winkeltjie verlede Dinsdagoggend [die tydperk waarin die verkragting sou plaasvind] ‘n sekuriteitsbeampte wat twee keer deur die winkelvenster kom inloer het, twee mense van die buurwinkel wat ook deur die venster kom loer het, derdens die slagoffer se onrustige moeder wat ook kom kyk het toe haar dogter nie haar selfoon antwoord nie, en laastens die klomp sekuriteitsmense en lede van die polisie wat die op die toneel toegesak het, toe die vrou uiteindelik gevind is. Dit is nou aldus die video opname.
Die koerant het uiteenlopende menings ontvang oor die redes waarom die vrou hierdie wolhaarstorie sou opmaak. “Kom ons los dit aan haar oor om aan die magistraat te verduidelik”, het ‘n omie van hom laat hoor.
‘n Tante waarmee namib times ook gepraat het, het jammer vir die vrou gevoel. Tog was sy ook van mening die vrou skuld Namibië ‘n groot verskoning. “Allermins gaan jy ligtelik om met goed soos verkragting, want duisende Namibiëse verkragtingslagoffers sit met daardie werklike pyn”, het die tante van haar laat hoor.
You must be logged in to post a comment Login