Visvangpermitte kos binnekort N$1500 per maand
Hengelaars in Namibië sal voortaan ‘n astronomiese N$1500 per maand moet opdok vir ‘n hengelpermit. Dié skok is gister deur twee visseryebeamptes bevestig wat verduidelik het dat die styging reeds op 5 Junie vanjaar in die Staatskoerant gepubliseer was. Daar word nog gewag vir ‘n datum waarop hierdie prys in werking tree. ‘n Jaarpermit is nou N$168 per jaar en N$14 per maand.
“Ek stel voor u kom nou na ons kantoor en kom neem ‘n jaarpermit uit, want ons wag net vir ‘n finale datum waarop hierdie prysstyging in werking gaan tree”, het ‘n permit-amptenaar van die Ministerie van See-visserye en Mariene Hulpbronne gister telefonies gesê. Die amptenaar het bygevoeg hulle is per faks daarvan in kennis gestel.
Oor die rede vir die styging kon die amptenaar nie verduidelik nie.
Sedert nuus van die styging bekendgeword het, het hengelaars in groot getalle na verskeie permit-kantore aan die kus opgeruk, om nog vir oulaas ‘n hengelpermit op die ou prys te bekom.
Dit is nou net ‘n kwessie van tyd voordat hengel ‘n rykmansding gaan word. namib times het die regulasie waarin die styging vervat is onder oë gehad. Daarin is bevestig dat ‘n hengelpermit voortaan N$1500 sal kos.
Daar is verskeie teorieë onder hengelaars. Een daarvan is dat dit ‘n numeriese fout was, wat met die opstel van die regulasie ingesluip het.
Tydens navrae het ‘n senior visserye-beampte kopskuddend gesê dat dit ongelukkig nie ‘n fout is nie. Dus sneuwel dié teorie.
Wat wel vreemd is, is die feit dat die boete van N$300 vir hengel sonder ‘n permit onveranderd gelaat is.
“Dit maak ook nie vir ons sin nie. Ons is ook nie in hierdie angeleentheid geken nie, het ‘n tweede senior beampte van hom laat hoor.
Hy het bygevoeg dat enige vorm van ekonomiese aktiwiteite wat rondom hengel wentel nou ‘n ernstige, indien nie ‘n vernietigende, hou toegedien word.
“Dit gaan plaaslike ekonomieë soos dié van Hentiesbaai byvoorbeeld feitlik laat doodloop. Die dorp se ekonomie is grootliks gegrond op hengelvakansies”, is gesê.
You must be logged in to post a comment Login