Vliegramp tref diep – Eksklusief: Pa, Ma, familie deel hul leed

namib times 18 August 2015; namib times 18-08-15

 

emed

“My seun en die ander slagoffers is in my oë Nasionale helde, want hulle het die hoogste prys betaal om die lewe van ‘n medemens te red.” Dit was die woorde van mnr Terence Ward, ‘n welbekende en geliefde paramedikus van Swakopmund, wie se seun een van die slagoffers van die noodlottige vliegongeluk, Sondagoggend naby Kaapstad was.

Mnr Ward se seun, Alfred John Ward (23) was nes sy pa ‘n paramedikus en was by E-Med Rescue 24 werksaam. ‘n Nood-ambulansvlug met ‘n 80-jarige pasiënt, mnr Gabriël Roux,

vanaf Oranjemund na Kaapstad het in ‘n ramp ontaard toe daar skynbaar probleme met die Kaapse radarstelsel ondervind is.

Die vliegtuig-ambulans het in die Tygerberg-natuurreservaat naby  Kaapstad neergestort en al vyf die persone aan boord se lewens geëis.

‘n Baie sterk, dapper, maar sigbaar gebroke mnr Terence Ward het gister tydens ‘n eksklusiewe onderhoud met namib times gesels.

Hy het dit baie duidelik gemaak dat, hoewel hulle nie weet wat presies die oorsaak van die tragedie was nie, hulle niemand verwyt of blameer nie.

Mnr Ward het genoem dat hy en sy familie stomgeslaan en diep aangedaan is deur al die oproepe, boodskappe van bemoediging en persoonlike besoeke van mense dwarsoor die land en ook Suid-Afrika. Volgens hom was hy die betrokke oggend juis op pad na Windhoek om ‘n pasiënt te  gaan haal, toe hy naby Okahandja die tyding via selfoon kry.

“Ek was van plan om sommer my seun met ‘n vinnige besoekie by sy tuiste in die hoofstad te verras, maar ongelukkig was dit my nie beskore nie,” het hy vertel. Mnr Ward noem dat hy en Alfred Saterdag die hele dag saam deurgebring en ook bietjie rugby gaan kyk het.

Tydens hierdie pa-en-seun dag het Alfred blykbaar aan hom genoem dat hy besluit het om die Here volkome te dien. Dit, volgens mnr Ward, was vir hom die beste nuus ooit.

“Ons familie het die gewoonte om wanneer ons van mekaar afskeid neem, mekaar ‘n drukkie te gee.

Alfred het my Saterdag met ons afskeid ‘n spesiale stewige drukkie gegee en gesê, Pa ek is baie lief vir jou en ons het vir oulaas ‘n grappie gedeel.

Dit was die laaste keer dat ek sy stem gehoor het…,” het ‘n bedroefde mnr Ward gister te kenne gegee.

Hy het ook vertel dat Alfred onlangs ‘n volle twee weke met sy ma, mev Alida Ward deurgebring het, en haar tot in die afgrond toe bederf het. Verlede week het hy by sy meisie, Ty-ron Klaasen, op Hotazel in die Kimberley-distrik gaan kuier.

Die tweetjies het groot toekomsplanne gehad, het mnr Ward genoem. Rakende Alfred se loopbaan as para-

medikus het hy aangedui dat dit al was wat sy seun van kleins af wou doen.

“Dit was sy passie en sy pasiënte het altyd eerste gekom.”

Mnr Ward het ook aangedui dat Alfred ander opsies  gehad het, soos om medies te gaan studeer, of gebruik te maak van ‘n rugby-studiebeurs, maar hy  was vasbeslote om, soos sy pa, ‘n paramedikus te word. As nege- en  tienjarige het Alfred glo al by die aanhoor van ‘n sirene sy pa aangejaag en aangesê om te beweeg, sodat hulle kon gaan help.

Hy spreek hy en sy vrou se dankbaarheid teenoor die MVA Fonds uit, wat volgens hom aan hul seun die kans gegun het om die lewe wat hy verkies het, te lei.

Die Ward-gesin dra ook  hul innige simpatie aan al

die ander slagoffers se families uit.  “As iemand wat byna daagliks met hierdie tipe trauma te doene kry, weet ek wat die werk behels en dat daar enige tyd iets verkeerd kan loop.

Om egter self in so ‘n situasie te wees, tref diep en ek weet dat dit ook die harte van die personeel by die call-centre geraak het.

Ons sê ook baie dankie aan die E-Med bestuur vir hul omgee en ons weet dat hulle hul bes sal doen om daar vir ons te wees in ons tyd van hartseer,” was mnr Ward se boodskap.

Die familie verwag Alfred se oorskot teen Vrydag, of vroeg vogende wee,k en hulle beplan om hom volgende Saterdag, 29 Augustus, ter ruste te lê.

Die begrafnisdiens gaan om 09:00 by die AGS Kerk in Tamariskia wees en waakdienste vir volgende week word ook beplan.

Vir meer inligting kan Pastoor Ruben Petrus of mnr Albert Enssle by 081 275 0325 gekontak word.

 

You must be logged in to post a comment Login