Voormalige Huis Palms werknemer en haar vriend sit glo agter inbrake

‘n Voormalige werknemer van die Huis Palms tehuis vir bejaardes op Walvisbaai, Edwina (Winnie) Lubbe, en haar vriend, Joseph (Joe) Levy het Vrydag vlugtig in die landdroshof op Walvisbaai op ‘n klag van huisbraak verskyn.

Dit is nadat die polisie die twee kon verbind met een van die reeks inbrake wat gedurende Januarie vanjaar by woonstelle van bejaardes op die ouetehuis se perseel plaasgevind het.
Een van die slagoffers was die bejaarde mnr Hans de Jager wat op sy sterfbed in ‘n Windhoekse hospitaal verkeer het, toe daar by sy woonstel ingebreek is. Ware van nagenoeg N$100 000 is tydens die inbraak gesteel. De Jager is dae later oorlede sonder die medewete dat hy in sy doodsuur rot en kaal besteel is.
Daar kon vasgestel word die inhegtenisnames volg op ‘n ondersoek na ‘n ander inbraak in dieselfde tyd as die inbraak by die de Jager-woonstel. Daar is nou genoeg gronde om die ondersoek na die de Jager-inbraak weer oop te maak.
Die Raad van Direkteure van die ouetehuis is besig met onderhandelinge met ‘n regspan van wyle de Jager se boedel om vir die verliese te betaal. Die Raad oorweeg ook om vergoeding te betaal aan ‘n tweede inwoner. Dit is juis die inbraak by hierdie tweede slagoffer waarmee Lubbe en Levy verbind kon word.
Lubbe en Levy is elk op borg van N$2000 vrygelaat en sal weer op 5 September vanjaar ‘n volgende verskyning maak.

You must be logged in to post a comment Login