Vrou sterf in motorongeluk kort nadat sy ‘n vriend bemoedig wat ernstig siek is

‘n Kragtige motorbotsing op die kruising van 5de Weg en Nangolo Mbumba rylaan het vroeg Sondagoggend die lewe van ‘n inwoner van Walvisbaai, me Loretha Louw (41), geëis. Die bakkie waarin Louw ‘n passasier was, is omstreeks 00:15 op ‘n hoë spoed op die linkersy deur ‘n aankomende motor getref. Hiermee lê die hoop nou aan skerwe dat die kus die dood oor Paasnaweek gespaar kon word.

Wyle me Louw (op die foto hiernaas saam met haar lewensmaat mnr Robert Hanekom (45) het juis Vrydagmiddag van Windhoek teruggekeer waar sy ‘n vriend bemoedig en bystaan wat op die oomblik ernstig siek is.
Mnr Robert Hanekom was agter die stuur van die voertuig toe die paartjie Sondag kort na middernag na ‘n kuier by huisvriende huiswaarts gekeer het.
Hulle het in 5de Weg in die rigting van Union Straat gery. Alle aanduidings is dat die verkeerslig vir Hanekom groen was. Toe hy die kruising oorsteek, het ‘n voertuig wat in Nangolo Mbubma rylaan afgekom het sy voertuig op die linkersy getref.
Weens die krag van die botsing het Hanekom se motor omgeslaan.
Die slag van die botsing het mense uit hul wonings laat kom. Daar is gesien hoe mense weghardloop van die wrak van die motor wat Hanekom se voertuig getref het.
Teen saktyd gister was die naam van die bestuurder van die voertuig wat Hanekom se voertuig getref het nog deur die polisie weerhou. Hy sal na verwagting vandag vir strafbare manslag aangekla word.
∙Daar is ook bevestiging ontvang dat Hanekom in die Welwitschia privaathospitaal vir sy beserings behandel word. Ofskoon sy beserings ernstig is, is Hanekom stabiel en buite gevaar.
Louw laat twee tienerseuns agter. Haar ouers het vanuit Hentiesbaai by haar huishouding aangesluit, om die kinders deur hierdie moeilike tyd by te staan.

You must be logged in to post a comment Login