Walvisbaai Rugby Klub vasbeslote om semi-finaal teen Unam te wen

Na veertien weke en 112 rugbywedstryde het ons nou by die punt gekom waar die 2017 NRU Premierliga se halfeindronde beslis gaan word. Walvisbaai Rugby Klub (4de op die punteleer) en Unam (voorlooper op die punteleer) takel mekaar môre in hul semi-finale wedstryd op die Hage Geingob stadion in Windhoek.
Dit gaan ‘n taai stryd wees. UNAM is ‘n gedugte teenstaander. Hy het vanjaar al sy wedstryde gewen en het die liga-fase geeïndig met 75 punte. Western Suburbs wat tweede lê het met 55 punte geeïndig.
Wat gaan Walvisbaai teen dié gedugte span doen?
Die afrigter van Walvisbaai, Gawin Esterhuizen het dit vandeesweek gesê: “Ons benader die wedstryd soos enige ander wedstryd. Dit is net nog ‘n wed-stryd wat deur enige span gewen kan word. Dit is ons eerste semi-finale in hierdie gesogte liga en ons sal graag wil wys wat in ons steek. Die spelers is gemotiveerd en slaggereed vir die wedstryd.
Die voorbereiding was goed en die spelers se gemoedere loop hoog vir aksie. UNAM is die gunsteling om in die finaal te speel, maar ons gaan dit nie maklik maak nie.
Dit is al baie bewys dat die gunstelinge ook kan verloor”.
Die afrigter van UNAM, Johan Diergaardt, het by navraag so oor sy span se kanse gereageer: “Ons isl baie bly en dankbaar. Vir ons is dit ‘n groot voorreg om weer deel van die halfeindronde te wees.
Ons gaan om die tagtig minute van rugby te geniet, en ons weet waartoe ons in staat is.
Ons verwag ‘n harde wedstryd. Dinge sal vir ons in plek val, ten spyte daarvan dat agt van ons gereelde eerstespanspelers nie môre speel nie.
∙ Wat ook die wedstryd môre soveel meer spesiaal gaan maak, is die tweeling broers Cameron en Chris Klassen teen mekaar gaan speel. Chris is die kaptein en haker van Walvisbaai en Cameron is die skrum skakel van UNAM.

In die ander semi-final spook FNB Western Suburbs en FNB Wanders ook sake môre op die Hage Geingob stadion uit.
Die wedstryd sal op NBC gebeeldsend word.

You must be logged in to post a comment Login