Walvisbaai uit Premierliga
Walvisbaai Rugby Klub se droom om in die finaal van die NRU se Premierliga te speel is Saterdag deur Unam verongeluk. Unam het met ‘n puntelling van 44-0 sy plek in die finaal geboek. Unam was in die pasafgelope Premierliga onoorwonne en kom teen Wanderers te staan wat Western Suburbs Saterdag naelskraap met 24-22 gewen het.
Walvisbaai het in die eerst helfte goed verdedig. Met ‘n onverdoelde drie en twee strafskoppe teen Walvisbaai was die half-tydtelling 11-0 in die guns van UNAM.
Met die begin van die tweede helfte het UNAM die krane oopgedraai. By tye het dit gelyk asof daar net een span op die veld was. UNAM het met mening begin speel en die kusspan moes sy keer ken.
UNAM het in die tweede helfte vyf drieë ingepalm, wat die eindtelling op 44-0 te staan gebring het.
Walvisbaai Rugby Klub kan nieteenstaande nog steeds met sy kop omhoog op die hawedorp rondloop. Na net twee jaar in die Premierliga het hulle sowaar die halfeindstryd gehaal. Al wat die Baaienaars nou moet doen is om volgende jaar harder te werk.
In die ander half einstryd het Wanderers vir Western Suburbs 24-22 geklop. Dit gaan nou vir die derde agterenvolgende jaar wees dat UNAM1 en Wanderers1 in die finaal speel. In die reserwe-liga final speel UNAM 2 teen Wanderers 2.
You must be logged in to post a comment Login