Wyle Mnr Jack Jordan
Die versekeraar Old Mutual en ‘n gesinslid van wyle mnr Jack Jordan het skerp gereageer op ‘n berig in Dinsdag se uitgawe van namib times wat lui dat persoonlike dokumente wat hy [mnr Jordan] in sy kantoor bewaar het, daarop dui dat hy sy selfmoord vooraf beplan het.
Mnr Jordan is Saterdag in die omgewing van die Walvisbaai soutpanne dood aangetref. Hy het sy eie lewe geneem.
Sy dood is met skok en ongeloof begroet, aangesien wyle mnr Jordan ‘n prominente figuur aan die kus was. Hy was ‘n uitmuntende makelaar wat bekend was vir toewyding tot sy werk en kliënte. Hy was ‘n vriend van vele mense met ‘n groot hart en ‘n oop hand.
Daar is intussen weereens bevestiging verkry dat Old Mutual na die nuus van mnr Jordan se dood as ‘n standaard gebruik alle moontlike toegang tot sy kantoor verbied het. Twee senior bestuurslede was Maandagoggend eerste toegelaat om sy kantoor oop te sluit. Een van sy gesinslede was ook teenwoordig en sy persoonlike dokumente is aan hom oorhandig.
“Die feit dat iemand sy persoonlike dokumente netjies liaseer en op een plek hou sodat dit maklik bereikbaar is in die geval van ‘n skielike dood, is geen gronde om afleidings te maak dat die persoon sy selfmoord beplan het nie”, is gesê.
∙ namib times stem saam met hierdie siening en bied ‘n onvoorwaardelike verskoning aan die familie vir die ongerief wat hierdie stelling veroorsaak het.
You must be logged in to post a comment Login