Nugget Visser: ’n Legende Van Die See

WhatsApp
Facebook
X
LinkedIn
Email
Print
Nugget Visser: ’n Legende Van Die See
Nugget Visser 1

Eileen van der Schyff

Walvisbaai het op 22 Augustus 2026 afskeid geneem van een van sy laaste ou-skool pelagiese visserskippers. Nugget Visser, wat vir dekades diep verweef was met Walvisbaai se legendariese visbedryf, is kort ná eenuur die oggend oorlede.

Visser was veral bekend as ’n bekwame skipper in die bloeityd van die sardynbedryf en het meer as vyf dekades op see deurgebring. Vir talle vissermanne was hy nie net ’n skipper nie, maar iemand na wie hulle vir leiding, raad en ondersteuning kon opsien. Kort voor sy dood het skrywer en bekende Namibiese joernalis Gert Jacobie hierdie persoonlike herinneringe aan sy vriend Nugget Visser neergeskryf.  Dit is ’n huldeblyk aan ’n man wat ’n groot deel van sy lewe op die koue Atlantiese Oseaan deurgebring het en wat deel geword het van Walvisbaai se visvanggeskiedenis. Gert Jacobie het tydens ’n telefoniese gesprek met Namib Times toestemming verleen dat hierdie besondere herinneringe aan sy vriend, Nugget Visser, in die koerant gepubliseer word.

Sout van die Aarde

(deur Gert Jacobie)

My omwandelinge deur die afgelope sestig somers of meer oor die vlaktes, duine en boswêreld wat mense vandag Namibia noem, het my op vêr paaie gevat en soos die wind oor die voor-Namib sand teen elke graspol vaswaai wat potenieël ʼn reuseduin kan word, was daar mense van hierdie land wat ná klein praatjies uiteindelik dierbare, onvervreembare vrinne geword het.

Ou Nugget Visser van Walvisbaai was een van hulle. Op sy oudag – hy’s naby 85 – het ons om die koffietafel by die Dolphen Coffee Shop teen die standmeer op Wavisbaai kanne koffie en tee uitgedrink, bekendes gegroet, grappies vertel, oor die politiek ernstig geraak en sommer net geskinder, soos mansvriende doen.

Ou Nugget se posisie in senioriteit aan tafel was nooit in gedrang nie, maar hier en daar het ʼn onnutsige jongeling van oor die sewentig hom nie kon weerhou daarvan om ou Nugget skrik te maak nie.

Nugget was ʼn skipper op pelagiese skuite soos die Prowess van Etosha Visserye in die hoogtyd van veral die sardynbedryf op Walvisbaai. Sy persoonlike visserman-kraglopie het sedert sy koms in Walvisbaai vroeg in die jare sestig van die vorige eeu op Walvisbaai aangehou tot naasteby 2010 toe hy die Morgester moes uitvat om vir oulaas die sardynbron vir die Etosha-groep en die Ministerie van Visserye te gaan proe. Daar was sprake dat die bron genoegsaam herstel het dat dit weer ge-eksploiteer kon word. Maar dit het voortydig geblyk te wees. Die saryn bly weg.

Toe Nugget die Morgenster losgooi opsoek na ʼn vet skool sardyn in die koue water van die Atlantiese Oseaan was dit waarskynlik vir hom ʼn herinneringstog, want hy was toe al meer as vyftig jaar op see. Hy het ryk geword uit sy jare se harde werk op see en tallose bemannings op verskeie bote het na hom opgesien as ʼn bobaas Skipper. Iemand wat keer op keer daar was vir hulle toe hulle hom nodig gehad het vir leiding en raad.

Net soos ek by hom aanklank gevind het.

Hy het vertel sy jongdae op Velddrif en Lambertsbaai. Van bokkoms vang saam met sy ou vader in die Bo- en Onderbaai en van plekke soos Pampoengat, St. Helenabaai en Port Owen. Dalk was dit waarom ek by hom aanklank kon vind, want ek het daardie wêreld leer ken toe my skoonfamilie vir hulle ewige rusplekke gaan bespreek het van Stompneusbaai af tot in die Smiths-begraafplaas op die kruin van die duin noord van die Bergrivier by sy inloop in die see.

Nugget het soos baie, baie Walvisbaaiers uit die goue visvangjare daarvandaan in die sestigs en sewentigerjare in die land aangekom en daardie wildheid, werketiek, harde speelgewoonte van ʼn visterman en ‘n goue hart met hom saamgebring.

Ek hoor Ou Nugget is siek. Ek hoop om nog ʼn kans te kry om met hom te gesels. Sy verhaal is ʼn hele vrag sadyn – tot op die bodek – werd.

Share:

WhatsApp
Facebook
X
LinkedIn
Email
Print

Stay Informed

Subscribe to our Newsletter

Get the latest breaking news delivered right to your inbox! Learn More