
Die musiek van die geliefde Namibiese en Suid-Afrikaanse kunstenaar Johnny Davids het Sondagaand weer in Walvisbaai tot lewe gekom toe familie, vriende en mede-kunstenaars bymekaargekom het vir die finale aand van die Johnny Davids-huldeblyktoer.
Die aand was veel meer as net ’n konsert. Dit was ’n viering van ’n musikant, skrywer, sportaanbieder en mens wie se lewe en werk deur musiek, geloof en hoop duisende mense geraak het. Walvisbaai, waar Davids ’n belangrike deel van sy kinder- en jeugjare deurgebring het, was die laaste stop ná die toer deur Oranjemund, Rehoboth en Windhoek. In die dorp wat hy as deel van sy tuiste beskou het, is sy verhaal vertel op die manier wat hom waarskynlik die beste beskryf het – deur musiek.
Die gehoor is deur verskillende hoofstukke van Davids se musikale reis geneem, met bekende liedere en herinneringe wat die aand ’n besonder emosionele karakter gegee het. Maar die emosionele hoogtepunt het gekom toe Johnny se jongste seun, Conway Davids, die verhoog betree het om die finale lied van die toer te sing. Dit was ’n kragtige oomblik – ’n seun wat sy pa se stem, musiek en nalatenskap na die volgende generasie dra.
Johnny se vrou, Lizel Davids, het ná afloop van die toer gesê die projek was in elke opsig die moeite werd. “Ek dink in elke opsig van die woord was dit die regte ding om te doen,” het sy gesê. Volgens Lizel het die liefde, warmte en harde werk wat in die huldeblyk ingegaan het, dit gemaak wat sy gehoop het dit sou wees. Maar vir haar eindig Johnny se verhaal nie met die toer nie. Lizel beklemtoon dat Johnny se verhaal nooit bedoel was om ’n “jammer-kry-partytjie” te wees nie. “Johnny se droom was nie om ’n jammer-kry-partytjie rondom sy verhaal te hê nie, maar om ’n verhaal van hoop en inspirasie vir almal te bring,” het sy gesê. Sy glo sy boodskap kan mense inspireer wat met moeilike omstandighede, eensaamheid, mishandeling en ander vorme van gebrokenheid worstel. “Moet nooit moed verloor nie. Moet nie hoop verloor nie,” was volgens haar deel van Johnny se boodskap.
Lizel beskryf hom as ’n man wat voortdurend gedroom en nuwe projekte aangepak het. “Dit is wie Johnny was. Hy het elke dag nog gedroom. Hy het elke dag nog aan iets nuuts gewerk.” Sy het ook haar dank uitgespreek teenoor almal wat die vertonings bygewoon, boodskappe gestuur en ondersteuning gebied het. “Elke woord van bemoediging is deel van my genesingsproses. Dit help baie,” het sy gesê. Met die laaste note van die huldeblyktoer wat in Walvisbaai weerklink het, het een ding duidelik geword: Johnny Davids is weg, maar die Boytjie van Narraville se stem het nie stil geword nie. Sy musiek leef voort. Sy boodskap leef voort. En sy verhaal van hoop sing steeds.
Deur Rudi Bowe


