Inbraak in Swakopmund Middedorp Gefnuik

WhatsApp
Facebook
X
LinkedIn
Email
Print

Die wakker optrede van voertuig- en sekuriteitswagte in Swakopmund se sentrale besigheidsarea het Woensdagaand die planne van vermeende inbrekers wat een van die besighede in die area wou teiken, gefnuik.

Volgens ‘n hoogs betroubare bron het een van die verdagtes ‘n sekuriteitswag by een van die finansiële instellings se aandag afgetrek deur ‘n geselsie met hom aan te knoop, terwyl twee ander agter by die perseel oor die hek gespring het. Ongelukkig vir die voornemende inbrekers het ‘n voertuigwag hulle opgemerk en alarm gemaak, waarna al die sekuriteitswagte in die omgewing tot aksie oorgegaan het. Die wie agter by die perseel ongemagtigde toegang na een van die besighede wou verkry moes glo inderhaas die hasepad kies, maar die verbete sekuriteits- en voertuigwagte het hulle ingehaal en aangehou, waarna die polisie ontbied was. Gedurende die jaagtog het die twee verdagtes glo ‘n sak laat val waarin daar allerhande inbraak toerusting was, insluitende twee slypmasjiene (grinders).

Ons bron kon bevestig dat die twee verdagtes gearresteer is. Daar is ook sprake van ‘n 7-sitplek voertuig wat kort voor die inbraak-poging glo die strate in die area “patrolleer” het. Die voorval het ongeveer 21:15 Woensdagaand plaasgevind. Namib Times is ook nie-amptelik ingelig dat inbrake die afgelope tyd gereeld in die vakansiedorp se middedorp geraporteer word en besigheidseienaars word gemaan om paraat te wees.

Teen saktyd was daar nog geen amptelike verslag deur die Erongo polisie weergee nie.

Deur Marshallino Beukes

Share:

WhatsApp
Facebook
X
LinkedIn
Email
Print

Stay Informed

Subscribe to our Newsletter

Get the latest breaking news delivered right to your inbox! Learn More