Wees Lig Vereniging Bring Hoop met Toiletware Projek

WhatsApp
Facebook
X
LinkedIn
Email
Print
Wees Lig Vereniging Bring Hoop met Toiletware Projek
Wees Lig Vereniging bring hoop met Toiletwareprojek 1

Wat begin het as ‘n eenvoudige daad van omgee vir een vrou in nood, het binne ‘n jaar gegroei tot ‘n gemeenskapsprojek wat talle mense op Walvisbaai en omliggende gebiede ondersteun.

Die stigter van die Wees Lig Vereniging, Ds. Mercedy van Wyk, het vertel dat sy die toiletwareprojek in Junie verlede jaar begin het nadat ‘n vrou haar genader het en gesê het sy het nie eens seep gehad om haar hande te was nie. “Ek het vir haar ‘n klein pakkie gegee en toe by myself gedink dat ek dalk ‘n projek hiervan moet maak om te sien of mense bereid sal wees om te help,” het Van Wyk gesê. Hoewel mense aanvanklik skepties was, het die projek vinnig momentum gekry.

Volgens haar ontvang sy gereeld skenkings van individue en organisasies wat toiletware, finansiële bydraes of ander benodigdhede skenk. “Die projek het net gegroei en gegroei. Mense kontak my en vra wat die grootste behoefte op daardie stadium is. Party items word volop geskenk, terwyl ander minder beskikbaar is. Finansiële skenkings help my om die ontbrekende produkte aan te koop.” Die vereniging stel versorgingspakkies saam wat aan mense in nood uitgedeel word. Elke damespakket bevat agt noodsaaklike higiëne-produkte, waaronder seep, ‘n tandeborsel, tandepasta, waslap, room, deodorant en vroulike higiëne-produkte.

Mans ontvang pakkies met ses basiese higiëne-items. Ds Van Wyk sê sy probeer altyd sorg dat daar klaargemaakte pakkies beskikbaar is sodat sy vinnig kan reageer wanneer iemand hulp benodig. “Wanneer ek ‘n oproep ontvang, wil ek nie iemand laat wag nie. Daarom probeer ek altyd pakkies gereed hê.”

Sy beklemtoon ook die belangrikheid van deursigtigheid. Alle skenkings wat ontvang word, sowel as die verspreiding van die pakkies, word op die vereniging se sosialemediaplatform gedeel sodat skenkers kan sien hoe hul bydraes aangewend word.

Die projek, wat aanvanklik as die “Helen Bag”-projek bekend gestaan het, is later uitgebrei nadat dit duidelik geword het dat mans ook hulp nodig het. Met die amptelike bekendstelling van die vereniging in April vanjaar is die projek herdoop na Wees Lig Vereniging, ‘n naam wat volgens Ds Van Wyk beter by die organisasie se doel en Afrikaanse identiteit pas. “Ons wil lig bring waar daar nood is. Dit gaan nie net oor toiletware nie; dit gaan daaroor om mense hul waardigheid terug te gee.” Van Wyk het haar opregte dank uitgespreek teenoor almal wat reeds die projek ondersteun het. “Elke skenking, groot of klein, maak ‘n verskil. Sonder die ondersteuning van die gemeenskap sou hierdie projek nie kon groei nie.”

Sy doen ook ‘n beroep op die publiek om steeds skenkings te maak en persone in nood onder die vereniging se aandag te bring. “Indien iemand weet van iemand wat hulp nodig het, is hulle welkom om ons te kontak. Saam kan ons ‘n verskil maak en lig wees in die wêreld.”

Share:

WhatsApp
Facebook
X
LinkedIn
Email
Print

Stay Informed

Subscribe to our Newsletter

Get the latest breaking news delivered right to your inbox! Learn More